12
Sep
09

Hondedrolle en groen dieretuintjies

30 Junie 2008

Julle moet my vergewe. Ek is nou so meegevoer deur soete herinnerings aan my kleintyd op Ascent.  Alles was nie altyd maanskyn en rose nie.  Ek het ‘n pa gehad wat nie altyd al sy varkies op hok gehad het nie, maar selfs hy kan nie ‘n skaduwee gooi oor regtig gelukkige memories nie. Tsk! Vergeet hom vir die oomblik.  Laat ek julle vertel van my bababoetie, Jurie.

Jurie is drie jaar jonger as ek.  Vir ‘n lang, lang tyd was my naam Sussie, Pieter was Boetie, en Jurie was Baba.  Hy was seker so 5 jaar oud, toe my ma besluit het die kind kan nie deur die lewe gaan met sò naam nie.  Ons moes oorskakel na ons regte name. O, die ontwrigting! Met ‘n paar klappe en baie tyd,  het ons dit later tog aangeleer.

Jurie is nou al diep in die dertigs.  As mens vandag na hom kyk, met alle respekte, dan sal mense wat hom nie ken nie, hom ‘n sloerie noem.  ‘n Regte maplotter.  Maar, as klein seuntjie  was Jurie my ouers se trots.  Ek onthou so vaagweg die klein blondekop seuntjie wat altyd ‘asseblief’ en ‘dankie’ gesê het, en ook goed soos ‘Verskoon my asseblief van die tafel’.  Vriende van my pa het eendag amper hul vurke ingesluk toe die klein polite mannetjie homself van die tafel verskoon het.  En hy het altyd ‘n toeknoophempie en ‘n das gedra.  En kouse en skoene.

Dit was dus g’n wonder dat ek en Pieter hom altyd afgeknou het nie.  Destyds was ons twee bietjie bar, en die fynopgevoede seun waaroor die mense ge-oe en ge-aa het, het ons suur gemaak.  Boonop was ons ouer (en groter) as hy.  Ek onthou eenkeer toe Pieter en Jurie resies gehardloop het op die ‘atletiekbaan’.  Dit was ‘n gelyke stryd, want al was Pieter ouer, was hy ‘n klein pokkel, en Jurie sou hom maklik kon wen.  Hy het net nooit die kans gekry nie. Piet het gesien hy gaan sleg tweede kom, vinnig gesaag om net langs Jurie te kom, en hom toe met ‘n mighty shove laat sloeg deur die grond.

Maar met sonsondergang het Jurie wraakgeneem. Elke aand, sonder uitsondering.  Dis te lank terug om te kan onthou presies hòè lank die ritueel aangehou het, maar ek reken dit was ten minste ‘n jaar.  Dit was voor televisie in ons lewens gekom het.  Ons het buite rondgespeel vir solank ons kon, want badtyd was iets wat ons wou vermy.  Dis wanneer Jurie sy troefkaart uitgehaal het:  ‘n droë, wit, harige hondedrol.  Ek en Pieter het om een of ander rede ‘n heilige vrees vir daardie drol gehad, en Jurie het dit goed uitgebuit.  Hy het ons gejaag met daai ding, en ons het gehardloop asof ons lewens daarvan afhang.  As die ’speletjie’ uiteindelik verby was, het hy sy drol gaan wegsteek en weer in die opgevoede seuntjie verander.

Ek en Pieter kon darem èènkeer goed voel toe Jurie my ma in ‘n groot verleentheid gestel het. Nogal voor vername mense van die omgewing wat die spesifieke aand by ons kom eet het.  My ouers was baie trots op hul groentetuin, en die aand het my ma weer vir elkeen ‘n individuele bakkie slaai geskep: ‘n hele slaaiblaar met tamaties, uie en pietersielie mooi daarop gerangskik.  Die ete was al aan die gang toe my ma ‘n groen wurmpie uit Jurie se slaaiskeppinkie sien kruip. Ongemerk het sy die wurmpie van die bordjie afgeskiet en op haar servet doodgedruk.  Maar Jurie het dit gesien en luidkeels aan’t skreeue gegaan: “Ma het my dieretuintjie doodgemaak!!!”  Die gaste het beleefd geglimlag, maar my ma het nie gehou van die manier hoe hulle die slaai daarna geïnspekteer het nie…


0 Responses to “Hondedrolle en groen dieretuintjies”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: