11
Sep
09

Die Kerk der Kerke

9 Junie 2008

Soos julle weet, het ek ding oor die ou kerke van Angola.  Ek het al oor hierdie kerk gepraat, maar ongelukkig het ek al my foto’s verloor toe ons rekenaar eendag konvulsies gekry het.  My dierbare man het wèèr die paadjie deur berge en dale aangedurf, om spesiaal foto’s vir my te gaan neem.  Dankie, Lief! Dis no mean feat, laat ek julle verseker! Dit voel of jy 500 km gery het, en ek wonder of dit 50 km is?

Diè kerk is, volgens my, die kerk.  Geleë teen die groot Kwanza-rivier, half eenkant van die stowwerige, klein dorpie waar sy lidmate woon.  Die kerk het ‘n baie indrukwekkende Portugese naam, maar by ‘n gebrek aan iemand om my spelling na te gaan, gaan ek dit eerder los.  Vir my is die kerk indrukwekkend genoeg.

Volgens ‘n Angolees-gebore Portugees (ja, hulle wil nie graag Angolese wees nie!) het die Hollanders die Porras hier ‘n paar eeue gelede aangevat.  Nadat hulle vir ‘n rukkie die septer geswaai het, het die Portugese met mag en mening teruggeveg, en die nedersetting teruggeneem.  Maar, volgens hom, was dit amper-amper of die Kaaskoppe het Angola vandaar oorgeneem. Pity.

In elk geval.  Die Portugese het geweet hoe om te bou – om te hou vir altyd.  Diè kerk is in die 17e eeu gebou, en is vandag nog in gebruik.  Onder Portugese bewind is herstelwerk gedoen en die plek in stand gehou. Amper soort van ‘n museum.  Vandag maak hierdie trotse gebou staat op die ou Portugese vakmanskap om te oorleef.  Hy staan nog, maar ek kan die agteruitgang opmerk – in minder as ‘n jaar. Dis iets wat my manies maak.  Daar lê letterlik hordes historiese skatte rond in Angola, maar dit lyk nie of iemand die waarde of belang daarvan besef nie.  ‘n Paar meter van die kerk, is ‘n ou fort. Toe ek daar was, het kanonne met 18e eeu datums daarop, net rondgelê. Met boerbokke wat daar rondgeloop het.  Met my man se besoek, was dit so oorgroei van die bosse, dat dit nie die moeite werd was om foto’s te neem nie.

Ondanks die ou kerk se verval, is dit nogtans een van die mooiste, majestieuse geboue wat ek nog gesien het.  Hy straal ‘n aura uit van onverganklikheid.  Ek onthou dat ek oopbek gestaan en staar het na hom.  Die mure is seker 2 m dik.  ‘n Eenvoudige ontwerp, maar dis juis dit wat my so aangryp.  Vandag is die lote van ‘n jaar gelede wat uit die krake in die muur gegroei het, al jong boompies.  Ek hoop iemand gryp in voordat hierdie kerk net ‘n murasie is.

\'n Ou doopfont Binnekant van die kerk


0 Responses to “Die Kerk der Kerke”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: