11
Sep
09

Bosangs

15 Junie 2008

Verlede week het ek weer by die haarsalon uitgekom.  Dis altyd ‘n intimiderende ondervinding.  Die haarkapper (Hoë Priesteres) is ‘n strykplank-maer blonde.  Velletjie plooi- en vlekkeloos.  Altyd op hoë hakkies.  Maar, aangenaam.  Gesels maklik, en baie.

Langs my het ‘n splinternuwe blou generator gestaan.  Gekoop tydens die beurtkrag-tydperk.  Ek weet nou dat dit R150 se diesel vat, en dat die diesel presies twee weke hou.  Dit voorsien haar hele shop van krag.  Van die haardroërs tot die hoofligte.

So gesels ons oor ditjies en datjies.  Natuurlik draai dit ook by ons kinders.  Ek noem aan haar dat Pieter nou in ‘n kleuterskool is.  Haar perfekte gesiggie helder op.  Haar twee dogtertjies is nou ook in dieselfde skool.  Ek is effe verbaas, want 3 maande gelede was sy doodgelukkig met die kleuterskool waar haar dogtertjies toe was.

Sy antwoord voordat ek kon vra.  Die ou kleuterskool het ‘amper oornag pikswart geword’.  Daar is nou wel swart kindertjies in die nuwe skool, maar hulle is gelukkig nog baie min.  Maar, vertel sy my verontwaardig, ‘n week gelede het haar oudste by die huis gekom met ‘n stukkende lip.  Ene Sipho het haar geslaan.  Haar man het gelukkig die volgende dag die skoolpersoneel presies vertel hoe die saak gaan werk.  As Sipho sy kind wèèr seermaak, haal hy sy kinders uit die skool uit en gee vir Sipho die loesing van sy lewe.  Die juffrouens het gesê hulle sal met Sipho se ouers praat, maar het hom verseker dat Sipho eintlik ‘n baie ‘nice’ kind is.

Met haar gesig digby myne, sodat die ousie wat daar werk nie hoor nie, vertel sy my dat ‘hulle’ dalk uit baie ‘nice’ huise kan kom, maar dat mens die bos nie uit hulle sal kan kry nie.  Daai ding van wit meisies aanrand, is in hul gene.  Sy moes seker sien dat my bek oophang, want sy vra my verskeie kere: “Jy weet wat ek bedoel, nê?  Jy weet wat ek bedoel”.

Ek weet tot vandag toe nie wat sy bedoel nie.  Ek weet dat Sipho my kind se beskermengel is by die nuwe skool.  Hy was die maatjie wat Pieter toilet toe gevat het om te gaan piepie die heel eerste dag.  Hy is die maatjie met wie ek Pieter elke middag op die speelgrond sien speel wanneer ek hom kom oplaai.  Die tuinjong groet Pieter elke oggend met ‘n wit smile.  Op sy naam.  Ek sien wraggies nie bos nie.  Ek sien ‘n kind en ‘n man wat elke traumatiese skooldag vir my kind beter maak.  Ek wens party wit mense wil bietjie uit die bos ontsnap.


0 Responses to “Bosangs”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: