11
Sep
09

As vrese waar word

18 Junie 2008

Gisteraand was weer een van daai aande waar ek net nie tot rus kon kom nie.  Ook maar goed so.

Ek het vanoggend seker eers 01h45 bed toe gegaan.  Pieter was al ‘n hele rukkie wakker, en nadat ek kontaklense uitgehaal en tande geborsel het, het ek by hom gaan lê.  Daarna het hy nog gekerm dat hy nie ‘more wil skooltoe gaan’ nie, en ek het probeer paai, so in die donker.

Skielik het ek ‘n geluid gehoor.  Kon nie uitmaak presies wat dit is nie, maar dit het naby genoeg geklink om my te oorreed om te gaan kyk.  Het eers gou my bril in die badkamer gaan kry, en het toe by die skuifdeur in my kamer gaan staan om te kyk of ek iets kan sien. Niks.  Ek fluister nietemin vir Pieter hy moet in die bed bly; ek kom nou, en ek gaan by die kamer uit.  Op my pad uit, sien ek Bruce se kamerdeur is effens oop.  Ek ontspan ‘n bietjie, want ‘n vorige keer toe ek ‘iets’ gehoor het, was dit Bruce wat in die donkerte opgestaan het, en vir hom koeldrank gaan ingooi het.

Ek is nietemin af met die trappe.  Pieter volg my met Anna die hond. (Laphond, ongelukkig) Ek fluister vir hom om terug te gaan bed toe, en vir ‘n wonder luister hy.  Onder in die sitkamer is daar niks – wat ek kon sien in die donker.  Ek sien ek het nie die buitelig aangelos soos ander aande nie.  Sit die lig aan en gaan staan by die skuifdeur.  Alles lyk veilig buite. Ek draai om, om terug kamer toe te gaan.

Toe ek by die onderste trappie kom, sien ek ‘n figuur op die tweede stel trappe.  Vir ‘n oomblik dog ek dis Bruce, maar besef skielik dat die persoon ‘n langbroek aan het.  Die figuur hardloop die res van die trappe op, ek agterna. Bruce se kamerdeur staan wa-wyd oop.  Bruce is vas aan die slaap, en ‘n man staan bo-oor hom, besig om by die venster uit te klim.

In daardie oomblik is alle vrees weg, en is ek net woedend.  Ek storm op hom af, terwyl ek in ‘n vreeslike stem ewe vreeslike goed skree.  Bruce skrik wakker en skreeu benoud iets.  Die inbreker is by die venster uit voor ek by hom kon kom.  Ek hardloop terug na my kamer se skuifdeur, net om hom van die balkon af te sien spring.

Hy kon seker nie 5 minute in die huis gewees het nie. Dit was 5 minute te veel.  Ons kan Liewe Jesus dankie sê dat hy blykbaar nie ‘n wapen gehad het nie.  Dat ek nog nie geslaap het nie.  Dat hy nie êrens vasgekeer was en ons hom moes konfronteer nie.  Dat niks behalwe Bruce se selfoon gesteel is nie.  Nogtans.  Dis vir my verskriklik skokkend om te dink dat ‘n vreemde man actually in my huis was. In my kind se kamer was, en op sy bed gestaan het.

Nodeloos om te sê dat ons eers baie laat vanoggend weer kon gaan slaap. Aldrie in my kamer, deur gesluit, vensters toe.  Ek wil nie so lewe nie.  Ek gaan nie so lewe nie.  Elkeen vir homself, en die duiwel vir elkeen.  Met my gebulder in die stil nag, het nie EEN siel kom kyk wat aangaan nie… Elkeen skynbaar veilig in sy eie klein fort.


0 Responses to “As vrese waar word”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: