11
Sep
09

‘n Positiewe gedagte

23 Junie 2008

My gemoed is maar redelik donker die afgelope tyd. Hoe mense kan sê dat die nuus hulle nie affekteer nie, gaan my verstand te bowe. En ek voel ek wil koerante lees en nuus kyk. Mens kan mos nie toe-oë deur die lewe gaan nie. Of hoe? Maar, ek het Dellie plegtig belowe dat hierdie week ‘n positiewe een gaan wees!  Toe dink ek en dink ek.  Daar is regtig net twee goed wat my hart warm laat klop op hierdie oomblik. 1. My man kom oor 11 slapies huistoe.  Soos die tyd nader kom, sal julle seker meer daarvan hoor! 2. My ou tuinboys in Angola.

My besluit om terug te kom SA toe, was redelik skielik.  In my agterkop het ek gedink einde Julie. Ek wou eers my nuwe rotstuin klaarmaak; ‘n soort van ‘legacy’, om te wys ek was regtig daar. Ongelukkig het dit toe nie so uitgewerk nie, want ek moes dadelik terug huis toe kom om ‘n krisissie te besweer.

Ek en my geliefde het beplan om die vyf strand toe te neem, Shipwreck Beach toe.  Ek is redelik seker nie een van hulle was al by die see nie, al bly hulle 60 km daarvan af.  Dit sou my afskeidspaartie aan hulle wees. Maar, dit het toe nie gerealiseer nie. Toe ek my oë weer uitvee, was my kaartjie terug  geboek en het ek minder as ‘n week in Angola oorgehad.

Ek het die klompie toe nadergehark en die situasie aan hulle verduidelik.  Die rotstuin, of ten minste die raamwerk daarvan, sou binne ‘n dag gedoen moes word.  Boeta, daai dag het ons gewerk!! En vir die eerste keer het hulle hul eie kreatiwiteit ten toon gestel.  Nie alles was na my smaak nie, maar ek het ‘n gevoel gehad dat, as ek wou hê hulle moes die rotstuin in stand hou, hulle hul merk daar sou moes maak.  Om ownership te vat.

Op hul laaste werksdag saam met my, het my ousie mark toe gegaan en vir hul kos gaan koop. Hul eie, tradisionele kos. Riviervis, cassava, boontjies en groen tamaties.  Daardie oggend het Domingas gewoel en gewerfskaf om die koningsmaal vir hulle voor te berei.  Met middagete het hulle ‘n groot tafel van die swembad onder ‘n kremetart ingedra. Domingas het die tafel gedek. ‘n Groot koelboks met bier en koeldrank op ys is saam.  Die vyftal, saam met Domingas, het by die tafel gestaan en gewag vir my ‘toespraak’. In my beste Portugees, wat sy beste maar baie vrot is, het ek hulle bedank vir die paar maande se saamwerk. Hulle gevra om aan te hou met hul goeie werk. My trane was maar redelik vlak.  Toe het hulle hande geklap en gevra vir ‘n foto van hulle.

Elke dag vertel my man my dat die boys my mis. Hulle wil elke dag hoor hoe dit met my gaan.  Hulle wil elke dag hoor wanneer kom ek terug.  En hulle het volgehou met hul goeie werk.  My man is nou nie-amptelik ‘in charge’ van hulle.  Hy gee hulle elke oggend koffie, deel bietjie orders uit en gee hulle die bottels ys uit die vrieskas. (Vir koue water deur die dag.)

Maar die cherrie oppie koek is dat hulle nou my man harrass om te gaan klippe optel.  Verlede naweek kon hy hulle nie vat nie, en hierdie komende naweek wil hy see toe.  Maar hulle wil gaan klippe optel!! Die nuwe rotstuin kort nog klip, vertel hulle hom.  Dit maak my sommer bewoë! Die tuinboys van ouds sou net blare opgehark het en verder so min as moontlik gedoen het.  Iets het êrens vasgesteek.  Hulle maak my trots voel, so oor die kilometers heen.

So, ja, as ek hard en diep dink, dan is daar tog iets om oor te smile!


0 Responses to “‘n Positiewe gedagte”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: