06
Sep
09

Onsamehangend

4 Jun 2008

Eendag, ek dink dit was in 1994, het Nelson Mandela Pietersburg besoek.  Nie met ‘n swart kar en ‘n gevolg deur ons strate gejaag en by ‘n veilige,  ’toe’ plek ingeboender nie.  Nee.  Reg voor die Pietersburg Klub het hulle ‘n verhogie gebou en dis waar hy sou verskyn.  Net so. Onder die blou lug.

Ek was ‘n jong ma met ‘n seuntjie van so 4 jaar en ‘n baba.  Soos almal in die dorp, was ek bewus van die commotion wat ons dorp sou tref.  Ek het nie planne gemaak om te gaan kyk nie.  Dit was mos nou nie juis ‘ons’ celebration nie.  Nogtans, toe die vegvliegtuie in formasie oor ons dreun, het ek my kroos nadergehark en die 2, 3 kilometer na die Klub gestap.  Boet aan die hand, en sussie in die pram.

Daar was nie ‘n skare mense nie.  Eintlik was daar baie min mense.  Die verrigtinge het ook net pas begin toe ons daar aanland.  Nelson Mandela het seker 20 meter van ons gestaan.  Daar was militêre seremonie en so meer. Toe het hy gepraat.  Ek kan nie ‘n woord onthou wat hy gesê het nie.  Ek onthou net ek het daar weggeloop met ‘n wonder in my. Ek het Nelson Mandela gesien.  Tot vandag toe onthou ek daardie figuur in ‘n donker pak.  Stil en statig.

Volgende week moet my seun ‘n Geskiedenis-taak inhandig.  Die tema:  enigiets oor die apartheidsjare.  Hy moet onderhoude met 3 mense hê, waarvan 2 nie blankes mag wees nie!  Ek het betrokke geraak omdat ek, besorgde ma, kon sien die tyd stap aan en daar word nie veel aan hierdie takie gewerk nie.  Ook nie regtig lus vir diep dink nie, stel ek Nelson Mandela se vrylating voor.  Ons het bietjie ge-oe en ge-aa oor die 8 vragies wat ons moes opstel.  Toe sit Boeta terug met ‘n veraf kyk in sy oë.

“Ma”, sê hy, “almal praat so oor apartheid en Nelson Mandela wat in die tronk was, en hoe wonderlik sy vrylating was. Maar ek het nie ‘n idee waaroor dit gaan nie.  Ek weet nie hoe dit in die apartheidtyd was nie.  Ek weet nie hoe bly of ontsteld mense was toe Nelson Mandela vrygelaat is nie.  Hoekom word dit so in ons kele afgedruk?”  Ek kon hom antwoord dat daar baie te leer is daaruit.  Dat menseregte nie weer so misken moet word in ons land nie. Ag, al die antwoorde wat daar is.  Instede het dit my vir die eerste keer getref.  My kind is in 1990 gebore. Hy weet regtig niks van apartheid af nie.  Hy weet nie van ontploffings in besige strate nie.  Of van blanke  en nie-blanke strande.  Wit en swart hospitale. Afsonderlike onderwys.  Hy kan sy kop nie daarom kry nie.  Dis ‘n heeltemal ‘foreign’ idee.

Dan dink ek aan die keer toe ek en my geliefde eendag buite by O. R Tambo lughawe gerook het.  Voor ons was die parkering vir regeringsvoertuie.  ‘n Lang swart kar het ingetrek en die chauffeur het uitgespring om die passasierdeur oop te maak.  ‘n Ouerige swart paar het uitgeklim.  Baie keurig aangetrek.  Die man het ‘n duidelik duur, donker pak aangehad.  Baie smaakvol.  Die dame het ‘n deftige swart rok aangehad.  Haar gesig was streng en onverbiddellik.  Ek het skielik soos ‘n gomtor gevoel in my reisuitrustinkie, maar het haar nogtans uit die hoogte dopgehou tussen die rookwalms deur.  Sy het ons ‘n afkeurende kyk gegee.  Toe kom Pieter op hulle afgehardloop en brabbel iets vir hulle terwyl hy skaterlag.  Ek het skaam gekry.  Die swart vrou se kwaai gesig het versag en sy het geglimlag en iets vir hom gesê.  Toe het hulle statig by ons verbygestap.

Net daar het ek besef: ek het my vooroordele oor sekere segmente van ons samelewing.  Daarvan kan ek nie wegkom nie.  Ek probeer liberaal dink, maar sekere goed is oor jare so ingeprent, dat flentertjies daarvan vir altyd sal oorbly. Maar…dit sal sonde wees om daardie selfde vooroordele, of net saadjies daarvan, in my kinders te plant.   Die nuwe generasie, swart en wit, weet niks van apartheid nie.  Hulle leer daarvan, ja, maar aan hulle eie lywe het hul dit nie gevoel nie.  Is dit ons hoop?  Of is ek vrek-naief?  Ek soek dringend bietjie hoop.


0 Responses to “Onsamehangend”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: