05
Sep
09

Koue Rillings

26 Mei 2008

Gisteraand, nadat die klein Diktator droomland toe is, sit ek oudergewoonte en speel op die laptop.  Dis later na middernag.  Op ‘n stadium begin ek skielik kriewelrig voel.  En dit was skielik.  Die een oomblik het alles nog honkey dorey gevoel, die volgende oomblik was ek erg onrustig.

Ek staan toe op en maak weer dubbeld seker dat alle vensters toe is, en alle deure gesluit. Ek sit later die ligte ook af, want ek begin baie weerloos in die eetkamer se lig voel.  Dit was seker 3h00 toe ek uiteindelik bed toe is.  Maar die slaap wil nie kom nie.  Ek rol rond en hou die gordyne dop vir ’skaduwees’.  Op ‘n stadium hoor ek ‘n vrou gil, en ek gaan uit op die balkon om te sien wat aangaan.  Maar niks beweeg  nie.  Geen verdere geluide nie.  Later raak ek tog aan die slaap.

Ek het die alarm vir 6h00 gestel sodat ek Bruce kon wakkermaak met ‘n koppie koffie.  Dit reën buite en ek klim saam met hom onder sy duvet terwyl ons koffie drink.  Ek vertel hom van my vrese van die nag.  Toe hy opstaan om reg te maak vir skool, gaan klim ek terug in die bed.  ‘n Rukkie later kom hy weer in en fluister in my oor: “Hulle het gisteraand by die buurman ingebreek.”

Die eenvoudigheid van hul plan maak my yskoud.  Hulle het ons munisipale vullisdrom tot teenaan die buurman se muur gestoot en by ‘n klein venstertjie ingeklim.  Toe die buurman wakker word waar hy in die sitkamer geslaap het, het die ‘kuiergas’ by hom gestaan.  Toe hy agterkom die buurman is wakker, het hy met die trappe opgehardloop na die hoofslaapkamer waar die skuifdeur reeds oopgestaan het as ‘n wegkom-roete.  Hy het van die balkon afgespring en weggehardloop.

In my ma se kompleks is die huise beveilig soos forte. Nogtans het hulle oor die naweek by ‘n huis ingebreek – deur die enigste (klein) badkamervenstertjie wat nie diefwering op het nie.  Dit lyk my as hulle wil in, sal hulle inkom.

As ek die moed kan bymekaar skraap, wil ek die mense in my omgewing nader en vra of ons nie ‘n soort van ‘patrollie-diens’ kan begin nie.  Ons lewe so geïsoleerd, elkeen in ons eie klein tronk, maar ek dink dis tyd dat ons vir mekaar moet uitkyk.  Jy kan nie net meer in die aand in jou bed klim en dink alles gaan oukei wees nie.  Dit gaan dalk nie wees nie.  Ons moet meer saamstaan, meer paraat wees, ophou om sagte teikens te wees.  En ek gaan van nou af ag slaan op my koue rillings.


0 Responses to “Koue Rillings”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: