03
Sep
09

Opwinding?

28 Maart 2008

Nadat Marina en Vygie opgemerk het dat ek ‘n lekker opwindende lewe in Angola het, het ek weer deur my ou possies geblaai.  Ek kan verstaan hoekom hulle so dink, maar die teendeel is eerder waar. Kom ek skets my dag-tot-dag bestaan:

Ek staan 6h00 in die oggende op. Soms, as ek ‘n ernstige babbelaas het, so 6h45. (Ek moet ophou met hierdie grappies; netnou dink julle ek het regtig ‘n ernstige probleem!)  Ek en Pa drink 5-6 koffies in vrede terwyl Boetie nog slaap, en 6h55 sit ek die ketel aan om koffie te maak vir my vier partners in crime. Van 7h00 tot 7h30 drink ons (nog) koffie en besluit op die dag se werk.  Pa loop 7h50 werk toe, en dan is ek op my eie tot 12h00 as hy terugkom vir middagete. Na 13h00 is ek en Boet weer alleen tot 17h00.

My dae is verdeel tussen die Beeld, blogging, Boetie en tuinwerk. Elke dag. Die hele dag.  Ek weet nie van ‘load shedding’ misdaad, modes of celeb skindernuus nie.  Wat ek by die Beeld kry, is wat ek van die land en wêreld weet. Soms voel ek half  soos ‘n buitestaander as mense praat oor iets wat ek nog nie aan my lyf ervaar het nie.  Hier het ek nie koffiekroeg-kuiertjies saam met vriendinne nie.  Ek kan nie op die ingewing van die oomblik in ‘n kar spring en gou-gou bestanddele vir ‘n nuwe reseppie gaan koop nie. Daar is nie inkopietogte vir klere of skoene nie.  My hare moet wag tot ek weer in SA is.

My paspoort in ‘n week gelede ingestuur sodat my visum hernu kan word. Ek het nog nie ‘n kwitansie daarvoor ontvang nie.  Ek het al tot 3-4 weke gewag vir my kwitansie.  Jou paspoort sien jy nie gou weer nie.  Ons mag nie reis sonder ten minste die kwitansie nie.  Dit beteken ek gaan vir die volgende paar weke ‘n gevangene wees in die kompleks, want om te reis sonder jou paspoort/kwitansie, is vir groot moeilikheid soek.

Kry ek my kwitansie of paspoort, is die ander probleem vervoer.  Tussen 9 ex-pats, het ons net EEN bakkie.  Niemand wil naweke hier bly nie, dus moet jy die bakkie vooraf ‘boek’ as jy wil weggaan.  Dis ‘n bron van groot frustrasie, maar na meer as 2 jaar, het ek al half gewoond geraak daaraan.

Klein dingetjies raak nou opwindend. My impalalelie wat blom. Die ‘onbekende woestynplant’ wat ‘n nuwe groeipuntjie het. Die baas se sekretaresse wat  bedank het.  Die storms wat ons nou elke middag het. Die nuwe klippies wat ek in die rotstuin gelê het. Die ‘barmaid’ wat amper ge-’fire’ is. Die lys gaan aan en aan!

Dus!! As ons die dag wel uitgaan vir ‘n naweek, maak ons seker dat ons GROOT gaan! Vir my en Pa beteken dit nuwe paaie, onontdekte skatte.  Al ons ‘opwinding’ spruit grootliks uit ons onkunde. Tot dusver het ons nog lewendig uit alles gekom, en daarvoor bedank ek ons oorwerkte engeltjies.

Ek kla nie oor my lewe nie.  Ek wil eerder by my man wees as enige ander plek op aarde.  Om my kop bymekaar te hou, lees ek na oor alles wat ek sien.  Ek soek iets om in belang te stel.  So het ek  die groot krieke (soortgelyk aan die Parktown Prawn) bestudeer.  Hier is snaakse goggatjies wat altyd en oral gat-aan-gat loop. Dit interesseer my ook.  Ek is vandag nogal ‘n boffin met kremetarte.  Na ‘n besoek aan die slawemuseum, is ek nou redelik clued-up oor slawerny ook! Soms kan ek die Angolese iets vertel oor hul eie land wat hulle nooit geweet het nie.

Die probleem is net, goggas is nie goeie blogmateriaal nie!


0 Responses to “Opwinding?”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: