31
Aug
09

Sop vir die siel

My ma het kleintyd soms vir ons sop gegee.  Ek het dit GEHAAT, maar my ma, helleveeg wat sy is, het dit net met die volgende ete wèèr vir jou voorgesit. Koud.  Dit het die seël geplaas op die afsku wat ek vir sop het.  Tot onlangs.

Van die mans in die kompleks gaan gereeld Sondae Viana (soort van ‘n voorstad van Luanda) toe om ’sop te gaan eet’.  Die logika van sop in daardie snikhete klimaat het net nie vir my sin gemaak nie.  Dat hulle so slaafs sop aanhang kon ek ook nie kleinkry nie. Ek bedoel, hoekom sal mens 40 km dorp toe ry vir ‘n bord SOP?

Ons ou kuierplek in Viana se diens en kos het erg agteruit begin gaan, en op ons soup-loving vriende se aandrang, gaan besoek ons Marisqueira. Mens draai van die besige hoofpad af en gaan parkeer op die stowwerige stuk grond voor ‘n afgeleefde wit geboutjie wat niks goed voorspel nie.  As jy die klein deurtjie binnestap, wag daar ‘n allemintige verrassing op jou.  ‘n Knus, gesellige eetplekkie met ‘n buzz wat jou vertel diè plek is GEWILD.

Die eerste keer het ons gegaan net om garnale te eet.  Net vir die snaaksigheid bestel ons eers die sop.  Dit was amper ‘n heilige oomblik, daai kennismaking met Marisqueira se sop. Dit word in ‘n diep kommetjie aan jou voorgesit saam met oondvars broodjies.  ‘n Waterige sop, maar propvol spinasie- en koolblare, wortels, en hier en daar ‘n stukkie vleis.  Uit die dieptes van die kommetjie kry jy ook soms rys, ander kere spaghetti.  Die smaak:  iets wat ek nog nie kon copy nie. En glo my, ek het al probeer.

Vir my is die blare wat daarin ronddryf, die wen-element. Mý sop proe egter soos…uh…opgekookte spinasie en kool.  Ek weet nie hòè hulle daardie sop geur nie, dis ‘n geheim wat my nog steeds ontwyk.  Intussen het ons ook sop-verslaafdes geword.  Eenmaal ‘n week skiet ons deur vir ons kommetjie sop en vars brood.  Vir 250 kwanzas (ongeveer R25) is dit ‘n heilsame winskopie!



%d bloggers like this: