31
Aug
09

Please help. No food. One hungry child.

5 Mar 2008 07:25

Ek word nie deur my kop regeer nie, maar deur my hart.  Ek besef volkome dis verkeerd, maar hoe op aarde ‘re-tune’ jy daai neiging? My hart het my gisteraand soos ‘n brullende leeu hier laat rondloop, en ek gaan dalk nog baie suur vrugte pluk vir al my moeite.

Ons huis is nou bar en leeg.  Geen, maar geen, proviant nie.  Nie waspoeier, uie, aartappels, rys, pasta, mieliemeel of cereal nie.  As die klein telg vir kos begin skree, sak my hart in my skoene. Wat kan ek opdis wat aanvaarbaar gaan wees vir sy klein hoogheid?? Want sien, ek het wel twee lang brode van die kantien gekry, maar die margarien staan hom (of my) nie aan nie.  Dis die tipe wat mens in ‘n blik kry:  so vol preserveermiddels en snaakse vette, dit hoef nie in ‘n yskas gebêre te word nie.  Die goed plak teen jou verhemelte vas en  al sluk jy hóé sterk, die goed wil nie afgaan nie.

Gister na werk sou ons na ‘n klein supermarkie in Viana gaan vir die broodnodige.  En hemel, dis regtig die broodnodige! Ek was skuldig, want ek het eers Tom se hare gesny voor ek gaan bad het. Plaas het ek klaar reggestaan toe Pa hier instap gistermiddag!  In elk geval, ons drie het net in die kar geklim om te ry, toe klop daar iemand in die venster.  Met die doodsberig: my man moet afgaan werk toe.  My moermeter het sommer van sy ’stand’ afgemoer.  My man is nie op standby die week nie!!! Die ou (Angolees) wat hy oorspronklik gevra het om te help, het net gesê hulle moet Liefie kom roep.  Want gisteraand was sy birthdaypaartie.  En Liefie, sucker wat hy is, jaag ons weer terug in die huis en gaan werk toe.

Die paartie was in die lapa.  Vyftig meter van my huis af.  Die Afrika-musiek wat daaruit kom, laat my ore tuit waar ek in die sitkamer sit en stoom.  En stoom!  Toe dit slaaptyd is vir die jongste, help tot die aircon nie om die musiek te doof nie.  En teen daardie tyd het die Afrika-musiek en Afrika-jille en gille vermeng tot iets wat ek nie meer kon verdra nie.  Ek het die lapa bestorm met moord in my hart.  Die arme birthday-boy het ‘n oorvol gekry.  Almal wat teen die trappe gelê en suip het, het vuil kyke gekry.  Die musiek IS afgedraai – tot ek weer in die huis verdwyn het.  Toe dawer dit weer lustig voort.

Vanoggend lê half-vol bierblikkies versprei oor die aarde.  Wie se plig is dit om skoon te maak? Die tuiniers, natuurlik.  Ek gaan hierteen skop. Hard skop. Hulle kan my dan maar uit die land verban, maar wat stront is, is stront! Die lapa is ons ex-pats se lapa.  Dis met ex-pat geld begin.  Nou kan elke Jan Rap en sy maat hier kom afsaal.  In die middel van die week.  En wat my waansinnig van woede maak, is ek die een is met die minste ‘regte’ hier.  Ons moet maar sonder kos bly omdat ‘n ander ou wil feesvier.  En dan moet ek teen wil en dank na musiek luister tot wie weet watter tyd van die aand.

Kleinboet het wonder bo wonder wel aan die slaap geraak. Pa was teen halfnege klaar gewerk.  Ek het woedend gaan slaap in my eie bed, en weer woedend opgestaan en in ons spaarkamer gaan slaap in ‘n poging om van die musiek weg te kom.  Vanoggend voel ek rustiger (en sleg omdat ek nie vriendeliker was met die verjaardagseun nie).  Ek gaan niemand om verskoning vra nie – ek voel nie so sleg nie!  Ek wag nou net vir die wrange vrugte om te val uit die boom van vergelding…



%d bloggers like this: