31
Aug
09

Op die draak se rug…

12 Mar 2008 02:25

Ek glo in die blinde sambok en in engele. Absoluut! Kom ek verduidelik.

Benguela, Namibe en Lubango lê in ‘n driehoek, met eersgenoemde twee aan die kus en Lubango in die binneland.  Vòòr ons die ontdekkingsreis suid afgelê het, het die wat weet, ons afgeraai om te gaan.  Ons het natuurlik nie geluister nie.  Hoe erg kan ‘n pad dan nou wees?

Die pad van Luanda tot in Benguela was relatief goed.  Heelpad geteer, en net by Lobito het ons bietjie slaggate gekry.  Waaroor ons natuurlik steen en been gekla het! Min het ons geweet…

Van Benguela moes ons die pad na Lubango toe soek.  Skynbaar ry die plaaslike mense nie juis verder suid nie!  Ons weet na dese goed hoekom nie.  Niemand kon ons regtig sê watter pad om te neem nie, en ons het toe agter ons eie neus aangery.  Die eerste pad waarop ons was, was ‘n grondpad, maar nie te sleg nie.  Toe ons by ‘n Portugees stop om hom te help met sy kar, het hy ons amper histeries aangeraai om eerder sý aanwysings te volg.  Ons is toe agter hom aan tot by ‘n pragtige, geteerde pad.  En ons smile van oor tot oor. Ons gaan regtig lekker ry!

Diè teerpad het nie lank gehou nie. Miskien 40 km?  Toe is ons van een desvio (ompad) na die ander.  Later is ons weer terug op die hoofpad, maar dis meer grondpad as teer.  Later wens ons die stukkies teer weg, want dis ‘n pyn in die agterent.  Toe begin dit reën. Soos in sous. Plek-plek stroom die water soos ‘n rivier oor die pad, en ons bid ons val nie in ‘n gat vas nie.  Omtrent 50 km buite Lubango, is ons weer op ‘n grondpad, weer ‘n ompad.  Die pad is ‘n moddergemors, en ons beland agter ‘n klomp stilstaande voertuie.  Die probleem? Lorries het in die modder vasgeval en die pad heeltemal versper.  ‘n Koddige klein Brasiliaan beduie aan ons om rustig te wees; hy gaan die lorries met ‘n stootskraper uittrek.  Omtrent ‘n uur later kon die prosessie karre verder ry.

copy-of-dscf0304.jpg

copy-of-dscf0315.jpg

Maar die pad het steeds ‘n riller gebly.  Op ‘n stadium kom ‘n klein vragmotortjie so vinnig by ons verbygery, dat ons amper van die pad af is.  My nerwe was gedaan.  En sowaar as vet, ‘n paar kilometers verder, kry ons die einste vragmotortjie – vasgeval in die modder.  Ons doen toe eers ons deel vir ons naaste, en trek die lorrietjie uit.  Tien ure later, of te wel 350 km verder, kom ons in Lubango aan. Gedaan, uitgemergel, lus vir omdraai en huistoe gaan.

Maar, na goeie nagrus, besluit ons om tog maar Namibe toe te ry die volgende dag.  En wat ‘n lieflike pad was dit nie! Geteer soos by die huis, met die pragtige Leba-pas ingegooi as bonus.  Net voor Namibe, sien ons ‘n afdraaipad (’n teerpad!) met ‘n bordjie was wys ‘Benguala’.  Ons was in ons noppies! En ons reken, ons gaan pioniers wees en ‘n ander pad terug Benguela toe ry.  In ons onnoselgeit dink ons dat niemand by die huis weet van diè pad nie. Maar ons dog toe ook: ‘n droë slegte pad kan nie so sleg soos ‘n nat slegte pad wees nie.

copy-of-dscf0419.jpg

Nà ons besoek aan Porto Namibe, vat ons toe die pad.  En ons is so gelukkig. Dis net smiles van oor tot oor.  Die lieflike, lieflike pad strek voor ons uit vir myle, so ver as die oog kan sien.  Vir 120 km vlieg ons oor die aarde, terwyl ons lekkerkry.  Toe begin ons slaggate kry, maar hanteerbaar. En toe, skielik, is die pad weggespoel en volg ons ‘n grondpaadjie.  Bietjie stamperig, maar heel gangbaar.  Maar hoe later, hoe kwater.  Die pad word slegter.  Dis baie klipperig, en omring deur berge.  Die son begin sak… My laaste foto van die naweek het ek toe geneem.  Ek kon nog die pragtig rooi kranse waardeer.  My lus het baie gou verdamp.

copy-of-dscf0422.jpg

copy-of-dscf0424.jpg

Ons het op daardie hele pad net 6 karre gesien, en 2 van hulle het langs die pad gestaan.  Daar is GEEN aanwysingsborde nie.  Daar is GEEN teken van lewe nie.  Net ons, ons getroue bakkie en die berge.  Op ‘n stadium kom ons by ‘n village aan, en as ek reg is, moes dit Lucira gewees het.  Daar het die mense ons ingelig dat ons moet terugdraai en by ‘n weggespoelde brug ‘n ander pad moes vat.  Which we did.

copy-of-dscf0432.jpg

Stel jou voor ‘n plaaspad.  Dìs hoe hierdie pad gelyk het.  Die hele tyd het ons gewag om op ‘n ordentlike pad uit te kom, met duidelike aanwysings wat ‘Benguela’ aandui. Dit het nie gebeur nie.  Later het ons begin twyfel.  Dit was pikdonker, met nie eens die maan wat ‘n liggie gee nie.  En die pad het klipperiger en klipperiger geword.

205_61.jpg

Ons het later gestop sodat Pa ‘n veldtie kon hê, en ek het die kans benut deur te kyk hoe die pad vorentoe lyk.  Gewapen met ‘n flitsie het ek die pad afgestap.  So 100 m van die kar, hoor ek ‘n gesis. En dit klink of dit nader kom.  Ek begin te panic, en skreeu so hard as wat ek kan vir Pa om af te knyp en my te kom red.  Want ek kon sweer dis ‘n woedende slang wat op my hakke is terwyl ek in die donker pad af retireer.  Eh, toe nie.  Kleinboet het weer sý kans waargeneem om die reënveërs aan te sit, en dìs die gesis wat ek gehoor het!

205_11.jpg

Toe begin die eintlike nagmerrierit.  ‘n Pad reg uit die hel.  Dis pikdonker.  Die pad is basies non-existent.  Al waaraan ons vasklou, is die wielspore voor ons.  Die kere wat ons die spore nie meer kon sien nie, het ons uitgeklim en gesòèk daarvoor.  Dit was ons enigste lifeline.  ‘n Bewys dat iemand al wel voor ons daardeur is.  Plek-plek is reusagtige klippe regoor die pad, maar oor moet ons oor.  Dis berg op en berg af.  Al wat ons sien is swart klippe…

ang2lucirard11.jpg

Teen 3h30 is Pa stokflou, maar ons is op ‘n heel gangbare sinkplaatpad.  Nog steeds geen teken van lewe nie.  Geen rommel wat rondlê nie. Net ons en die spore wat ons volg.  Na ‘n twee-ure slapie, sommer net so in die kar, word ons wakker in grys skemerlig en sien ons is hoog op ‘n berg, maar die pad loop darem af.  ‘n Uur later kom ons op ‘n dorpie af, en daar gee hulle ons die goeie nuus dat ons 50 km van Benguela is!

Sonder dat ons dit geweet het, was ons op die berugte pad van Lucira na Benguela.  Nog nooit geteer nie, maar dis ‘n hoofpad!  Klippe is met die hand gepak oor die sand.  Die pad loop al langs die kuslyn af, en alhoewel ons absoluut niks daarvan kon sien nie, is dit glo ‘n pragtige deel van die land.  Die 200 km het ons 10 ure geneem om te ry! Verstommend dat dit in die oorlogstyd die veiligste pad was om te ry.  Ons is verby verskeie wrakke van vragmotors, en dit het my verbaas dat hulle sò ver gekom het in die eerste plek.  Oorstromings het gesorg dat die grond weggespoel het en die klippe nog meer prominent laat uitstaan het.

ang2lucirard31.jpg

Dit was die mees verskriklikste tyd wat ek nog beleef het.  Op ‘n stadium het ons besef dat omdraai nie meer ‘n opsie is nie.  As die bakkie daar sou breek, sou ons dae  moes wag vir ‘n verbygaande voertuig.  Die bakkie sou in elk geval nie afgesleep kon word nie.  Dis waar die engele inkom.  Pa glo vas dat Liewe Jesus self die stuurwiel vasgehou het.  Die bakkie is ongedeerd daaroor, en niemand kon glo dat ons met Fortyfour dit gedoen het nie.  (Die chassis is glo te laag.) Op die internet lees ek van ‘n ou wat spog dat hy dit gedoen het ‘with two women and no aircon’.  Pa kan maar trots voel. Hy het dit met ‘n vrou en ‘n kind in die NAG gedoen!  En hy beplan sowaar alweer die volgende trip…  (O ja, en ek weet nou: ‘n droë slegte pad kan baie erger as ‘n nat slegte pad wees!)

NS  Die foto’s van die draak se rug het ek met groot moeite van die internet gekry.  Dit lyk baie beter in die daglig!



%d bloggers like this: