31
Aug
09

Nie so lekker tuiskoms!

3 Mar 2008 08:07

Ek moet al teen die tyd weet, as ek uitsien na iets, is dit gewoonlik ‘n fiasko! Net so was my heugelike tuiskoms, nie so heugelik nie.

Kom ek lys dit:

Die tuiniers het die absolute minimum gedoen in my afwesigheid. En wat hulle wel gedoen het, was nie wat ek hul gevra het om te doen nie. (gras plant)  Ook was almal gou om my in te lig dat nie een Saterdag vir werk opgedaag het nie.

Toe ons by ons voordeur instap Saterdagmiddag, het ons dadelik agtergekom daar is iets fout.  Pa se ‘toolbox’ het oopgestaan, ens.  Die kombuis het al die leidrade verskaf.  Ons vrot kombuisblad (waaroor ons nou al seker ses maande gekla het) is uiteindelik vervang.  Die hele kombuis was onder saagsels.  Sondagoggend het ons die hele oggend spandeer om die kombuis weer leefbaar te kry.  En om die kersie op die koek te sit, vind ons uit dat die ou vir TWEE dae alleen in ons huis was, geen toesig nie.  Geen wonder ons kry ons goed op snaakse plekke nie.  En ek is ‘n leek, maar vat dit regtig TWEE dae om ‘n kombuisblad in te sit? Nie ‘n kas nie, net die blad?

Ek het altyd ‘n vermoede gehad my ousie dra van my goed weg.  Die probleem is, konfronteer jy haar, stry sy jou dood.  So het ons twee asbakkies gehad. Eendag is een net weg.  Toe ek haar vra daarna, stry sy dat daar nog altyd net EEN was. Genade! Sekerlik weet ons hoeveel asbakkies ons het! Dis wat nou definitief missing is.  Ek het gaan dubbel seker maak dat dit nie dalk in SA is nie:

‘n Rok, teddiebeer, asbakkie, koffiekoppie, my twee gunsteling panties (dit was my doodsteek!), strykyster, hangertjie.  Sy het die dag nadat ons gevlieg het, ingekom om die huis skoon te maak.  Nou is die aartappels, uie, koffie en waspoeier klaar.  Dit kon die ou gewees het wat die kombuisblad ingesit het, maar die frustrasie is dieselfde. Ek gaan eers Saterdag Shoprite toe, en in tussentyd sukkel ek om sonder my stapelvoedsel (aartappels) iets op die spyskaart te sit!

Vanoggend is ek soos ‘n brullende leeu.  Gister was ek nog vuur en vlam om haar op die plek te fire, maar vanoggend het ek weer gedink aan haar drie bambinos.  Het haar net baie goed die kop gewas, en haar goed laat verstaan ek hou haar dop.  Nou is dit ek en die tuiniers.  Hulle gaan nie weet wat hulle vandag getref het nie!



%d bloggers like this: