31
Aug
09

Nie meer die land van melk en heuning nie

25 Feb 2008 04:19

Sedert ons ‘n week gelede in Suid Afrika aangekom het, het ‘n diepe depressie my oorval.  In Angola lees ek die Beeld op die internet, en is dus heeltemal bewus van alles wat hier gebeur.  Maar dis as mens eers hier is wanneer die volle impak van situasie jou in die gesig tref.

Mense is negatief en ja, depressief.  Baie sê reguit dat hulle nie meer koerant lees of nuus kyk nie.  Die oorheersende gevoel is een van magteloosheid.  In ons huis is ons bedag daarop om elke liewe venster en deur toe te maak voor ons gaan slaap.  Inbrake by ons kompleks gebeur daagliks.  En ons bly nie in die gopse nie!

My kinders maak my bekommerd.  Daar hang ook ‘n donker wolk om hulle.  Ek weet nie hoe elke dag se oorlewing in die land hulle regtig raak nie.  Of is dit omdat hulle my net elke 3 maande sien?  Of ‘n kombinasie van die twee?  As ek terugdink aan hoe kommervry hulle was in Desember, kan ek nie glo hierdie twee somber kinders is dieselfde twee mense nie.

Ek was nog nooit ‘n voorstander van emigrasie nie.  Ek het nog altyd gedink mens word getoets, en jou innerlike staal sal jou laat bly en terugveg.  Maar hoe veg mens teen dit wat nou in die land aangaan?  Dit voel asof dit ‘n onsigbare vyand is.  Dit boesem egter vrees in, en dit verlam  mense.

Angola is in Afrika, maar die afwesigheid van ernstige misdaad maak dit ‘n sorgelose land om in te bly.  As iemand teen jou skuur in ‘n winkel, spring jy nie om te kyk of jou handsak nog toe is nie.  Ons slaap met ons deur ongegrendel.  Op ons omswerwinge ‘n paar naweke gelede, het ons een aand net op ons matrasse op ‘n ‘boy’ se strand geslaap.  Ek het gal gebraak oor die 50 dollar wat hy ons daarvoor ‘gecharge’ het, maar ek het GEEN oomblik getwyfel aan my veiligheid nie.

Ek weet nou: jy kan nie ‘n prys op jou veiligheid sit nie.  Op jou kinders se veiligheid. Nie net fisies nie, maar ook emosioneel.



%d bloggers like this: