31
Aug
09

My Nuushooftrekke

11 Mar 2008 10:44

Sjoe! Vir ‘n rukkie het ek bloed gesweet! Die internet was af en ek het gedink ons 3 maande subskripsie is al verby! Gelukkig darem toe nie.

Ek en die ‘cleaning ladies’ is tans in ‘n yskoue oorlog gewikkel.  Hulle gaan heel waarskynlik die bo-toon vier, want die madam in charge is tans nie baie lief vir my nie.  (Sien hier. Sy was een van die genooide gaste van die rampspoedige verjaardagpaartie!)

Die girls gooi hul leë skoonmaakgoed-bottels op die grasperke voor die huise.  Hulle gooi plastieksakke, bottels, blikkies en what have you nog, oral rond.  Blykbaar om die boodskap oor te dra dat ons, die tuiniers, dit moet optel.  Hulle gwarre!  Ek het besluit ons gaan dit optel en weggooi. Om die waarheid te sê, ons gaan ALLES wat rondlê en nie op hul plek is nie, optel en weggooi.  Dit sluit in moppe, besems, ’scoops’, skoene, kouse, matte…

Jip, hier gaan ‘n volskaalse oorlog kom.  Ek moet dit net beplan dat die bom bars kort voor ek in Mei weer moet huistoe gaan!  Hiehiehie….

Ek en my vier tuiniers het in ‘n rustige roetine verval.  Soggens 7h00 drink ons koffie en beplan die dag se werk.  Almeida die Stadige het ongelukkig vir homself die grasplant-takie op die hals gehaal.  Hy is te stadig om enigiets anders te doen, so hy moet maar in rus en vrede, so stadig as wat hy wil, grasplant.  Ek dink ek het dit al gesê, ek dink nie hy is lui nie, net bietjie dom.

Sebastaõ se suster is verlede week in ‘n karongeluk oorlede.  Hy het kom tyd afvra om begrafnis toe te gaan, maar het nooit gegaan nie.  Miguel se seun is die naweek oorlede.  Hy was gister af vir die begrafnis, maar is vandag weer op sy pos, besig om gras te sny.  Geen sigbare hartseer en rou nie.  So asof dit nou maar deel van hul lewe is. Jy begrawe die dooie en dan gaan jy aan met die lewe.

Paulo het genoeg gehad van my patetiese Portugees en het ‘n woordeboek hier aangebring.  Ongelukkig is dit ‘n Engels-Portugese woordeboek.  As hulle my die betekenis van ‘n Portugese woord wil wys,  weet hulle nie wáár om te begin nie!  Nou gaan ons maar voort in gebaretaal en (baie) gebroke Portugees en Engels.

Die grootste ramp van alles is dat my enigste paar kontaklense nou uit net een bestaan.  Gisteroggend kom ek agter dat een middeldeur geskeur het.  Ek het die oorblywende lens in my linkeroog gesit, maar het die hele dag skeel gekyk.  Vanoggend het ek die lens in my regteroog gesit, en dit voel effe beter.  (Ek het mos op Oprah agtergekom dat my regteroog dominant is. Weet nie hoekom het ek nie gister daaraan gedink nie.)  Gelukkig het die oogarts gister laat weet my kontaklense wat op ‘backorder’ was, nou daar is.  Jan vlieg vandag uit en sal dit vir my saambring volgende Dinsdag.  Eeeekk! Nog ‘n week hiervan!  Maar wat is die gesegde: in die land van die blindes, is die een-oog koning…!



%d bloggers like this: