31
Aug
09

Ma

18 Mar 2008 03:43

My ma word 1 Mei tagtig jaar oud.

Ek wil so graag hulde aan haar bring, maar dis asof ek nie my woorde mooi agtermekaar kan kry nie.  Sy was/is ‘n formidabele vrou.  Waar ek sit, lyk dit vir my of haar lewe meer ‘hardship’ as vreugde geken het.  Sy ervaar dit dalk anders.  Ek sal nie weet nie, want ek het my ma nog nooit op ‘n hopie gesien sit waar sy haarself bejammer nie.

In haar leeftyd het sy jonk haar eerste man aan die dood afgestaan en na jare se emosionele mishandeling uiteindelik haar tweede man (my pa) verlaat.  Nie omdat sy wou nie, want sy stoïes geglo aan ‘n huwelik wat vir altyd moet hou. Dit was eerder omstandighede wat haar geen keuse gelaat het nie.  Dìt het sy gedoen toe sy alreeds in haar sewentigs was.  Nie ‘n maklike besluit op daardie leeftyd nie.  Soms dink ek dit was genade.  My pa is ‘n paar maande later op sy kleinhoewe vermoor.  As my ma nog daar was, wie weet…

Die laaste 8 jaar was seker die moeilikste jare van haar lewe.  Twee van haar ses kinders is oorlede, twee van haar kinders praat nie meer met mekaar nie, ek is geskei, die laaste twee van haar broers het weggeval, asook ‘n suster.  Van haar agt broers en susters, is dit nog net sy en my ou tante (nou 87 jaar) wat oor is.

Alles wat gebeur het, het haar skielik oud gemaak.  Nie geestelik nie, maar fisies.  ‘n Jaar gelede het sy nog, skipants en Reeboks, elke oggend 5 km gaan stap.  Nou is daar oral pyne.  Soms probeer sy deur die pyn aangaan, maar die pas het te vinnig geword.  Sy het oud geword.

Haar gees is egter nog onblusbaar.  Altyd vrolik, altyd opgewek.  Nog steeds besig met tuinwerk, haar kerk en oumensklubs.  Dit kuier en gesels elke dag.  Van haar vriende is dertig jaar jonger as sy.  Sy klink nie soos ‘n oumens nie.  Sy speel rekenaarspeletjies en luister na haar mp3-speler.  Sy ry nog rond en onthaal graag die ‘oumense’, soos sy hulle noem.

As ek net ‘n fraksie van haar ma-wees talente kon hê, sal my kinders gelukkig wees.  Wat ek die meeste van my ma waardeer, is dat sy altyd aan my kant was.  Selfs wanneer ek erg drooggemaak het.  Nie dat sy blind vir my foute was nie, maar as sy kant moes kies, sou sy my kant kies.  Maar nie as sy moes kies tussen my en ‘n broer nie. Dan was sy altyd neutraal.  Haar kinders het sy almal dieselfde behandel.

Ek kan eerlik sê dat ek alles met my ma kon bespreek.  En ek het.  Ek doen dit nog steeds.  Niks was te skokkend, te sleg, te vernederend om met haar te deel nie.  Sy sou luister en raad gee.  As ek my eie kop gevolg het, het sy my ondersteun.  As my eie kop my in die moeilikheid gebring het, was sy daar om my op te tel en af te stof.  Nooit, ooit met ‘n ‘I told you so’ houding nie.

Sy was ‘n remediërende onderwyseres.  Ek dink sy het die rekord vir die onderwyser wat die langste gewerk het in onlangse geskiedenis! Sy het skoolgehou tot sy 70 jaar oud was!  Vandag is haar advies rakende my kinders, vir my van onmeetbare waarde.  Sy sal vir my sê waar my jongste meer hulp nodig het.  Potensiële probleme sal sy uitwys.  Sy het die vermoë om heeltemal objektief na my kinders te kyk en raad te gee.  As ek daarom vra.  Andersins sal sy nooit uit haar eie opinies lug nie.

As mens het sy natuurlik haar foute, maar as ma is haar rekord vlekkeloos.  Ek kan nie ‘n lewe sonder my ma indink nie.  Wie gaan ek bel as ek nastergalkonfyt wil kook?  Wie gaan ek bel as ek bietjie moed-inpraat nodig het?  Wie gaan ek bel as my jongste ‘n nuwe mylpaal bereik het?  Ek wil nie eens daaraan dink nie.  Die gedagte alleen is te vreeslik.

Op haar verjaardag sal ek nie by haar wees nie.  Met daardie mylpaal sal ek 3000 km van haar af wees. Maar ek sal ‘n glasie klink op die aller, aller, allerbeste ma wat nog ooit hierdie aarde bewandel het.



%d bloggers like this: