31
Aug
09

Kleinboet se vissies

Kinders maak mens oud. Kinders maak mens grys. Maar ten minste is daar ‘never ‘n dull moment’ as jy kinders het nie! My jongste het dit so pas weer bewys.

Eergister vat ons hom strand toe.  Lieflike vlak watertjies met skaars ‘n golfie op.  Kleinboet baljaar tog te lekker, maar sien toe die duisende klein vissies raak wat parmantig tussen ons bene deurswem.  En net daar beveel hy: “Vang!”  Pa sny ‘n plastiek koeldrankbotteltjie in die middel deur en probeer so waar as vet om daarmee vissies te vang. Natuurlik het hy nie veel sukses nie, en kleinboet se humeurtjie dreig om die oorhand te kry.  Pa kan mos enigiets doen, vir wat kan hy nie vissies vang nie??

Gelukkig is Ma ook teenwoordig.  Die broodrolletjies se sak word ingespan as ‘net’, en siedaar! Uit die triljoene vissies kry ons drie gevang.  Kleinboet is in sy noppies, en ons boude ontspan.  Nie vir lank nie.  Kleinboet wou skynbaar al lankal sy eie vis vang EN eet. Met ‘n klein handjie skep hy ‘n vissie uit die sak, ruik aan hom en verklaar: “Lekker!”  En bring die hand mond toe… Dis waar ek besluit die paartie raak te rof vir my.  My kind gaan nie rou vis reg onder my oë verorber nie.  Ek blaf ‘n paar bevele uit vir Pa, en vat die hasepad.

Pa kon dit regkry om laatlam te oortuig dat sy magie nie die vissies se huisie is nie. En hy vang vir oulaas sommer ‘n klomp vissies met ons plastieknet.  Met sak en vissies is ons terug huis toe.  By die huis swem die vissies tog te lekker rond in ‘n plastiek kombuisbak.  Kort-kort vang ons Kleinboet met ‘n vissie in die hand.  Die knaap is lus vir vis eet! Of hy al een afgesluik het, weet ek nie.

Ek weet net die bak met vissies trek vir twee dae saam met ons rond. Kamer toe as dit slapenstyd is.  Eetkamer toe as dit etenstyd is.  Ensovoorts, ensovoorts.  Die helfte van die 2 cm lange vissies het besluit om die gees te gee.  Hulle dryf bo rond terwyl hul oorblywende makkers nog na ‘n uitkoms soek. Van uithaal en weggooi is daar nie sprake nie.  Ouma het vir seuntjie ‘n ‘net’ gegee (’n teesiffie), en nou is dit ‘n stryd om oorlewing vir die klein swemmertjies.

Hoekom duld ek nog die stinkende bak vissies in die huis? Ek weet nie.  Dalk omdat hy saans, voor hy in die bed klim, eers by die bak gaan staan en sy vissies nagsê.  “Jekke sjaap, vishiesh. Sjien julle mole.



%d bloggers like this: