31
Aug
09

Gestop deur die poelieste

16 Mar 2008 16:13

Die eentonige lewe in Angola het soms sy hoogtepunte. Soos Vrydagaand, toe ons na ‘n klein inkopie-ekspedisie en sop en prawns  by Marisqueira, die tog terug huistoe aanpak.  Pa ry by polisie verby en spot nog dat hy bly is hy is nie daar gestop nie. Sekondes later word ons agtervolg deur ‘n polisie vên wat ons verbygaan en skerp voor ons indraai en ons stop.

Pa draai die venster oop en begin nog met “Bon noite, Senhor”, maar die reusagtige polisieman wil niks stories hoor nie.  Pa word uit die bakkie gehelp en al ons paspoorte word gekonfiskeer.  (Arme vriend Martin het nie ‘n paspoort by hom nie!) Sonder seremonie word Pa by die poliesvên ingeboender, en Groot Polisieman klim in ons kar.  In doodse stilte ry ons agter die vên aan.  Net so 200 m verder, daar waar hulle ons in die eerste plek ‘gestop’ het.

Ek sien vir arme Pa, nog steeds agter in die vên, en ek besluit, come hell or high water, maar ek gaan hom nie alleen los nie.  Martin sit tjoepstil, want om sonder ‘n paspoort gestop te word, is amper erger as moord.  Ek gaan sluit my aan by die gros polisiemanne wat teen die tyd weer vir Pa met sy voete op vaste grond het.  En ek begin met hulle gesels. Ek bid maar net dat my stemtoon rustig is en nie die innerlike paniek weergee nie!  Die bietjie Portugees wat ek magtig is, verdwyn soos mis voor die son.  “Pappa, Mamma, Bambino…nao banditos”, probeer ek hulle oortuig dat ons nie geharde kriminele is nie.  “Nao, nao, nao banditos”, stem hulle met my saam.  Ons aartssonde was om nie te stop toe hulle ons gewys het om dit te doen nie.

Ons pleit hoog en laag misverstand, maar dis duidelik dat die poelieste op ‘n missie is.  Later gaan haal ek vir Kleinboet en staan met hom op my heup daar rond. ‘n Pluspunt vir die Angolese is dat hulle regtig ‘n swak het vir kinders.  Kinders word nie sommer verontrief nie.  Die taktiek werk, want gou-gou roep hulle my.  Hulle soek geld.  Teen die tyd is ek al redelik braaf, en wil begin protesteer.  Martin die Paspoortlose sien hier egter sy uitkoms.  Hy roep die poeliesman en begin krap in sy beursie.  Honderd dollar later is ons weer op ons pad. Met handdrukke en vriendelike gewuifery, so asof ons net gestop het om ou vriende te groet.

Met die hele spulletjie agter ons, kon ons net lag.  Dis moes een of ander tyd met my ook gebeur het. (Pa en Martin is albei al voorheen geharrass deur die polisie.) Dit was die klimaks van ons aandjie uit, en ek dink nie die poelieste weet dit eers nie! Nou’s ek weer reg vir ‘n vervelige week in die kompleks…



%d bloggers like this: