31
Aug
09

Die migrasie van aalwyne na my tuin.

29 Feb 2008 07:28

Saterdag vlieg ons terug Angola toe.  Behalwe die gewone pleisters en pille, piekel ek ook ‘n paar plantjies saam.  Liewe Skoor het vir my ‘n lugplant gestuur om my ‘verlore’ een mee te vervang.  (Muito obrigada, Skoor!)  Saam met die lugplant, sal 3 klein aalwyntjies ook saam met ons reis.

Ek kan nie glo ek het voorheen nie die skoonheid van aalwyne waardeer nie.  Dit het egter ook gebeur deur noodsaak.  Ek het groot drome gedroom om ‘n tipiese Suid Afrikaanse ‘fyntuintjie’ te begin in Angola.  Dit was ‘n groot flop:  tussen die hitte, goggas en boerbokke, het daar sweet blow boggerol gebeur.  Verlede winter ry ons een naweek strand toe.  Die landskap was bruin en vaal, maar die blommende aalwyne se helder kolle kleur het my baie beïndruk. Daardie dag het ek twee tipes aalwyne daar uitgehaal, en dit was die begin van my liefdesverhouding met aalwyne.

Elke aalwyn in my tuin het ‘n storie.  Nadat ek met die eerste twee daar aangekom het, kyk ‘n wildvreemde Porra een oggend na my tuin.  (Hy was daar om die komplekshuise te verf.)  Na middagete was hy terug:  met twee klein aalwyntjies vir my tuin.  ‘n Ander spesie as die twee wat ek reeds het.  Ek was regtig aangedaan dat die ou my waardig geag het om die ontvanger te wees van sy aalwyne!

Ek spog altyd dat ek elke plant in die kompleks ken.  My oudste het my verkeerd bewys. Hy kom een dag in Desember by my aan en vra my of ek die plant gesien het wat lyk soos ‘n ‘kruising tussen ‘n aalwyn en ‘n naboom’. Ek dog die kind is gerook, maar by nadere inspeksie, kry ek ‘n ‘tree aloe’, reg voor die baas se huis! Ek het hom nog nooit raakgesien nie!  Nodeloos om te sê, hy is uitgehaal en staan ook nou in my rotstuin!

Op ons trippie suid, het ek twee aalwynsoorte ryker geword.  In Humpata, by die kerk van die Dorslandtrekkers, staan daar ‘n lang ry aalwyne.  ‘n Besondere aalwyn met grys-blou blare.  Gelukkig het iemand van die aalwyne uitgekap, en twee het ‘n plek agterop ou Fortyfour gekry.  Wie weet, dalk is dit nog deur die klomp rebelse Boere aangeplant!

En op pad na Namibe se hoofstad, deur die woestyn, stop ons op ‘n slag om ‘n granietklip op te tel as aandenking.  En wat gewaar ek daar tussen die sand en klippe?? ‘n Piepklein aalwyntjie, sy blaartjies half beskermend toegevou.  Met ‘n knipmes het ek hom uit die los grondjies gegrawe, en hy het nou  ‘n ereplek in my tuin.  Ek het nooit verwag om ‘n aalwyn in die woestyn te kry nie!

Van die drie nuwes wat more saamgaan, het ek twee by ‘n kwekery gekoop, maar die ander een het ek op die pad tussen Melmoth en Vryheid uitgehaal.  Baie skewe kyke en ‘n getoet van verbygaande motoriste gekry, maar what the heck! Hulle sien my nooit weer nie!

Die stories rondom my plantjies maak my nog liewer vir hulle.  Dalk omdat ek nie ‘n kwekery net om die draai van my het nie!  Elkeen is óf met groot liefde aan my gegee, óf met groot moeite gesteel!

Berigte van ‘n groot reënstorm wat ons plekkie getref het ten spyt,  kan ek nie wag om my oë weer op my tuintjie te sit nie!



%d bloggers like this: