31
Aug
09

As tuinmaak jou ‘n koue sweet gee…

6 Mar 2008 03:43

Ek geniet tuinwerk baie. Wat is daar om nie van te hou nie? Die warm son op jou vel, die sweet wat teen jou voorkop en neus afbiegel, jou T-shirt wat nat aan jou vasklou, swart naels…ag, dis hemels!

Ek het gou agtergekom dat my huidige fiksheidstoestand my nie toelaat om sekere takies te verrig nie. Skoffel vir langer as 10 minute is uit. Grassny vir langer as ‘n uur, uit. Daar het nie veel van die nitty-gritty werkies oorgebly nie, en ek wou graag my spannetjie wys dat die senõra ook murg in haar pype het.

Ek neem toe vrywillig die taak van snoeiwerk oor. Die blombeddinkies voor die huisies is nie groot nie, en ek het regtig gedink dit behoort ek te kan baasraak. By nadere betragting sien ek toe dat dit heeltemal oorgroei is met twee tipes grondbedekkers. Een met ‘n ronde blaartjie, rooi aan die onderkant. Die enetjie is nie te agressief nie, en ek snip-snap die balhorige blaartjies sommer tjoef-tjaf af.

Die ander grondbedekker ken ek van my Pietersburg-dae. Die Singapore Daisy. Lieflik op die oog af, maar draai jou rug en daai ding rank dat hy sommer die huis van sy fondament af lig. Dit maak lang lote (2 – 3 m) en uit die lote kom daar dan die parmantige steeltjies met stupid geel blommetjies.  (Dit word as ‘n indringerplant in Australië beskou!)

ipa-singaporedaisy-closeup-250_rdax_250x1801.jpg ipa-singaporedaisy-infestation-250_rdax_250x1801.jpg

Dis ook nogal nie ‘n dun stingel om af te knip nie, jy moet dus heelwat effort insit om die skêr daardie knipaksie te laat uitvoer. So sit ek en swoeg. Die klein beddinkie lyk ewe skielik nie meer so klein nie. Ek belowe myself, maak net nog ‘n meter klaar, dan kan jy gaan vir ‘n smokebreak.

Ek werk toevallig by Frans se huis. Die kom daar aan en lyk besonder happy dat ek sy tuin bietjie trim. “Nee, Ma, ek los hom die tuin nou vir djou.” En ek voel chuffed! Hy dink ek gaan die battle wen! “Satterdag ek wou hom biedgie skonmaak, toe daar kom sjo dik slang daar uit.” En hy wys ‘n redelik groot sirkel met sy duim en middelvinger.

Wel, dit het die res van die dag vir my geruineer. Ek kry juis so swaar om die verdomde lote almal by te kom, maar om dit te doen terwyl jy in ‘n paraatheidsposisie is, maak dit nog moeiliker. Nie meer houtgerus op my hurke nie. Nee, altwee voete stewig op die grond, reg om te hardloop as die situasie dit vereis. Ek gryp ook nie meer die lote vas en KNIP nie. Van toe af is dit net mik-en-knip. Die afgeknipte koppies vee-vee ek met die snoeiskêr uit die bedding terwyl my oë die donker dieptes tussen die lote fynkam.

Gelukkig is al die beddings nou gedoen sonder enige ontmoeting met enige reptiele. Kleinboet kon net nie verstaan hoekom sy ma die heel tyd vir hom skree om op die stoep te staan nie! En ek het besluit dat daai welige grondbedekkers gaan waai. Gee net kans! .



%d bloggers like this: