31
Aug
09

Afrikaanse Argentyne

9 Mar 2008 21:30

Ek het toevallig hierop afgekom.  Dis ‘n artikel wat in Die Roepstem verskyn het in April 2004.  Die Roepstem sê hulle staan hiervoor:

  • Om die bewussyn van die eiendomlike taal en kultuur binne die Lae Lande (d.i. Nederland, België en Luxemburg) en binne die Afrikaanstalige gemeenskap te bevorder,

  • Om die bewussyn aangaande die kultuurhistoriese gebondenheid van hierdie lande en gemeenskappe te bevorder,

  • Om kennis van die Nederlandse beskawing in geskiedkundige opsig te versprei,

  • Om kennis van die Afrikaanse taal en kultuur te versprei en om dié taal en kultuur te bevorder,

  • Om aandag te vra vir die verspreiding van die Nederlandse beskawing oor die wêreld, waarby in die besonder die verbondenheid met die Afrikaners, Kleurlinge en ander Afrikaanssprekendes genoem word,

  • Om van die Nederlandse gemeenskappe uit ‘n kulturele weerwoord op die kultuurvervlakkende globalisme te bied.

  • Daar is baie skakels wat mens kan volg, ek sal dit met die tyd nog doen, maar die artikel oor die Dorslandtrekkers wat in 1902 na Argentinië verhuis het, het my aandag getrek.

    Meer as 100 jaar later, hou hierdie Afrikaanse Argentyne nog steeds elke jaar ‘n Boeresport-dag.  Baie praat nog Afrikaans, veral die ouer garde.  Afrikaans word meestal deur almal verstaan.  Tradisionele Boerekos word nog geëet.  Afrikaanse volksliedjies nog gesing.  Mens lees van die Lubbes, Myburgs, Vissers en Hennings.  Hul herkoms het hul (nog?) nie vergeet nie.

    Die Afrikaners van Patagonia is van die welvarendste boere in Argentinië.  Hulle het hul nuwe Vaderland volkome aanvaar.  Sommige het in die Falkland oorlog geveg teen die Britte, van wie hul voorouers weggevlug het.  Hulle praat Spaans en is heeltemal deel van die Argentynse gemeenskap.

    Om een of ander rede maak hul storie my hartseer.

    Hoe sterk moet jy oor ‘n saak voel om jou goed te pak, jou familie te groet en basies verarmd in ‘n ander land ‘n nuwe begin maak?  Hoe voel dit om in ‘n land te kom waar jy geen geskiedenis het nie?  Maak jy dan jou eie geskiedenis? Deur Sarie Marais te sing en jou kinders te leer om dit te sing?  Deur steeds koeksisters en melktert te eet?  Of om elke jaar ‘n Boeresportdag te hou?

    Ja, dit maak my hartseer.  Mens hoor elke dag van mense wat die land wil verlaat/reeds verlaat het.  Die nuwe Dorslandtrekkers.  Ek wens hul alles van die beste toe, want ek glo die meerderheid weet hulle los ‘n deel van hul hart hier.  Dit kan nie ‘n pynlose proses wees nie.  Ek hoop melktert en biltong  en Tannie met die rooi rokkie help om die gaatjie toe te maak.



    %d bloggers like this: