30
Aug
09

Swart, wit of grys?

Bashing innie Boendoes deur  boendoe

Feb 12, 2008 10:35 PM

‘n Suid Afrikaanse man kom gisteraand in Luanda aan. Sy vlug was vir 4 ure vertraag in Johannesburg, met die gevolg dat hy donker se tyd eers hier aankom. Toe moes hy vir twee ure in die warm, bedompige saal gaan staan om deur ‘passport control’ te kom. Om die kersie op die koek te sit, was die drywer nie daar om hom op te laai nie. ‘n Verdere uur en ‘n half wat hy op ‘n onbekende, primitiewe lughawe moes wag. Ek vermoed hy het toe maar aan sy duty free whiskey begin teug. Hy ken niemand hier nie, kan nie die taal praat nie, en kan niemand bel nie. Frustrasievlakke styg saam met die alkoholvlakke.

Toe hy uiteindelik die drywer vind, en veilig in die bussie is, moes hy Luanda se strate aandurf. Na twee, drie ure besef hy dat hy oppad boendoes toe is. Wat hy òòk nie geweet het nie. Dís waar die pô-pô die fên slaat. Die drywer verminder spoed om een of ander rede, die Suid Afrikaner dink hy gaan nou aangeval/beroof word, en slaan die drywer oor die kop met die whiskeybottel. Van ons mense kry hulle later langs die pad. Die Suid Afrikaner smoordronk èn smoorkwaad. Die drywer verskrik, omtrent 20m van die bussie af.

Dis vandag nou die ‘talk of the town’. Die drywer (en die res van sy volksgenote hier) wil hierdie saak by die polisie aanmeld en ernstig werk maak daarvan.  Die Suid Afrikaners keur glad nie goed wat hy gedoen het nie, maar wil hom eerder met die eerste, beste vlug uit die land kry.  Hy het met ‘n besoekersvisum die land ingekom, maar het eintlik hier kom werk doen. As die owerhede dít uitvind, gaan baie mense se kierankies braai.  Net twee Suid Afrikaners hier het werkspermitte. Die vrees is dat hulle eendag hier gaan kom toeslaan en almal wat werk sonder werkspermitte, terug huistoe pos.

Ek vind dit tragies. Ja, hy was dronk.  Maar, hy kom uit ‘n land waar sekere situasies jou nekhare laat rys.  Waar jou oorlewingsmeganismes dalk oortyd werk.  Ek hoop die man is sommer net ‘n low life ploert, en dat dit nie ons land is wat hom so gemaak het nie.

Ten minste het ons nou ‘n nuwe sê-ding. “Who is the man who bottled the driver?”



%d bloggers like this: