30
Aug
09

So gaan dit nou met die tuine

Feb 15, 2008 6:53 AM

Ek dog ek sal julle bietjie terugvoering gee oor die tuine.  Ek het my 4 manne nou vir net langer as ‘n week: Miguel, Sebastaõ, die twee ‘ou’ tuiniers, en Almeida en Paulo, die twee ‘rookies’.  Die eerste dag het ek ‘n tolk gehad om al die reëls mooi neer te lê.  Dit was vir hulle heeltemal aanvaarbaar om 7h00 te begin, ‘n uur vroeër as gewoonlik.  Die etensuur het ‘n groot debat veroorsaak. Dom ekke het Suid Afrikaanse standaarde gehad waarvolgens ek my beplanning gedoen het. As mens 8 ure per dag werk in goeie ou SA, kry mens mos ‘n halfuur ete?  Nee, o wee, hierdie manne was geskok. Hulle het gewoonlik TWEE ure ete!  Op die ou einde het ons op EEN uur ooreengekom.

Ek moet erken, die logika van twee ure het gou vir my sin gemaak. Gretig om hulle te wys ek is nie skaam om my hande vuil te maak nie, het ek saam met die viertal ingespring. Twaalfuur is etenstyd. Great. Eenuur brand hierdie son eenvoudig net te warm om regtig weer produktief te wees. Veral as jy nog met ‘n vol pens sit.  Nou gebruik ek die son as straf.  As ek dink hulle het in die oggend geloiter, bly hulle aan tot drieuur.  As hulle regtig hard gewerk het, soos gister, kan hulle na etenstyd waai.

Aanvanklik het ék alleen die grassnyer en Flymo gebruik.  Ek het nog nooit ‘n liefde gehad vir goed wat ‘n lawaai maak nie, dus voel ek nogal trots op myself dat ek dit gedoen het! Die probleem is net dat ek nou oral nuwe grasblaartjies sien opkom.  Dit irriteer my grensloos – die gras moet KORT wees.  Op die ou einde het ek omtrent elke dag gesny, en dit het my poegaai gemaak.  Nou sny Miguel gras.  Hy behandel my vuurwa met respekte, en sny toe eintlik beter gras as ek!

Sebastaõ en Miguel weet hoe om besig te lyk, al is hulle dalk nie.  Almeida doen alles in slowmotion. Hy loop selfs stadig toilet toe. Dit gaan my nog histeries maak, maar ek dink nie hy is regtig lui nie. Eerder bietjie dom.  Siestog, ek gee hom maar die voordeel van die twyfel.  Paulo is ‘n kort, dik mannetjie en hy laat my nekhare soms rys.  Ek maak vir hulle koffie in die oggende, en hy is die ou wat vir nog suiker sal kom vra.  Hy het die potensiaal om óf my staatmaker te word, óf die klippie in my skoen.  Ek wag maar en kyk!

Daar is ‘n merkbare verskil in die tuin, al moet ek dit self sê.  Die gras is gesny en die bossies is uit. Dìt alleen laat die plek netjieser lyk.  Daar moet egter nog baie gras geplant word.  Die onderste huisies is in die verlede baie afgeskeep ten gunste van die baas se plek.  Daardie balans moet nou herstel word.  Verder is hier letterlik honderde bakstene waarvan ek ontslae wil raak.  Om een of ander rede is rye en rye bakstene gepak:  langs die swembad, tussen die sement en die grasperke, die goed is oral.  Dit maak die grassnyery moeilik, en lyk sommer stupid.

More vlieg ons huistoe, en Miguel is verantwoordelik vir die grasperke.  Verder moet hulle net grasplant. Sal maar sien hoe dit lyk as ons terugkom!



%d bloggers like this: