30
Aug
09

Happy, happy, happy!!

Feb 17, 2008 3:57 PM

Roer het my getag om die 5 goed wat my histeries gelukkig maak, te lys. Dis nie moeilik nie:

1.  Roertjie, jy vra so mooi dat ons nie die ou, geykte ‘drukkies van ons kinders’ moet gee nie, maar I am going to defy you!  My jongste maak my sielsgelukkig. (My oudstes ook, maar hierdie klein brat is vir my te oulik!)  As hy sonder speelskool en maatjies, goggas vang en in bakkies hou, en hulle ‘my maatjies’ noem. As hy homself leer swem en ‘n swembadlengte kan deurpaddle.  As hy in die aand by ons kom inwurm, en saggies vir my sê: “Ma, I love you”. As hy vir Mater, Sally, McQueen, Doc en Sherrif eers netjies langs mekaar parkeer voor hy in die aande in die bed gaan klim.  As hy nie wil gaan bad nie, maar gou inspring as Pa dreig hy gaan die water uittap.  Dit maak my so gelukkig as elke swart mens op die kompleks (tot die ou wat elke ses maande die aircons kom diens en die klomp wat af en toe die french drains kom leegsuig) wéét wie Pieter is en hom soms teen sy ma beskerm!

2.  My man maak my net so gelukkig. Hy maak vir my koffie in die oggend en saans voor slaaptyd.  Hy demand nooit ‘n gekookte ete met vleis, rys en groente nie.  Hy verstaan as ek soms te lekker kuier en ‘n babbelaas het die volgende dag.  Hy is ‘n groter sucker as ek, en sal sy klere van sy lyf gee vir die een wat daarom vra.  Hy versorg my twee oudstes asof hulle sy eie kinders is.  En hy gee nie om as my lyf met tye bietjie té rond raak nie…

3.  My plantjies maak my gelukkig. Rêrig!  My ou aalwyntjies wat ek van oral vergader het. My halfmens en impalalelie. My kruietuin wat tog so lekker ruik as ek dit natspuit.  My woestynplant. Elke nuwe blaartjie of groeipuntjie sien ek raak. Dis hoekom ek die kluts kwytraak wanneer iemand daardeur ry of daarop trap! Of die boerbokke dit takel…

4.  My klippe maak my gelukkig.  (Roer, JY het gevra!)  Van ronde wittes van die seaside, tot rooies en bontes van Namibe.  Ek sal maar my ou houte ook hierby voeg. Van ou skuite en ’sleepers’, tot stukke hout met interessante vorms.  Ek weet nog nie wat ek met alles gaan maak nie, maar ek gaar dit op!

5.  Ek is die enigste vrou in die kompleks, maar kon dit regkry om met een en elkeen ‘n besondere verhouding te bou.  Sonder dat daar enigsins ‘n romantiese geurtjie is.  Van die baas wat my ondersteun as ek moan oor die sigaretstompies op die gras, tot die Porras wat vir my saad bring.  Ek kan saam met hulle suip en bietjie naam weggooi, en (ek glo!) dit word nie teen my gehou nie.  Dis vir my heerlik om daar te bly en heeltemal deel te voel van die setup.  Martin help my om gras te sny, Rogeiro vra my om na Sasha te kyk as hy weggaan en Domingos kom maak my kombuiskrane reg.  Ons is almal so verskillend, maar kom so goed klaar. Amper soos familie.

Ek het nie gaan dink hieroor nie. Net die goed wat eerste in my kop gekom het, genoem. Dalk is ek ‘n simpleton, but who cares? Dis die goed wat MY gelukkig maak!

Nou sal ek graag die volgende mense wil tag:

Sonneblom omdat ek dink sy sal dalk bietjie opgecheer word as sy dink aan al die goeie goed in haar lewe!

Bosveldbitch omdat sy altyd so anders na dinge kyk.

Vygie omdat sy so mooi kan skryf!



%d bloggers like this: