29
Aug
09

Wat ‘n dag!

Jan 20, 2008 8:53 PM

Ek is poot-uit. Gedaan. Kapoet. Die cherrie op die koek is dat ek my foto’s verloor het. Ek weet nie hóé ek dit reggekry het nie, maar dis weg soos mis voor die son. Iedergeval. Ek is hondmoeg, maar soos ek hier sit, loop ek op die wolke. Dit was net een van daai dae waaroor moewies gemaak word.

Ek en pa was redelik vroegerig op. Ons was albei op die splinternuwe grassnyer gefokus, maar het verskillende doelwitte gehad. Pa het gedink hy gaan my wys hoe om petrol en olie in te gooi en dan die ding vir ‘n vinnige spin vat. Ék het heimilik beplan om hom te boelie om gras te SNY. Baie. Die hele dag. Solank as wat dit sou vat…

Terwyl ons besig was met ons tweede koppie koffie, kom Martin by ons aan. Toe hy van ons planne hoor, was hy soos ‘n klein seuntjie. Dié nuwe masjien wou hy ook uitprobeer! Nadat ons aldrie in ons werkskleertjies geklim het, het die operasie begin. Ek het nie baie van Martin verwag nie, hy is gewoonlik ‘n ou wat nie van sweet hou nie. En dit het belowe om ‘n baie warm dag te word…

Terwyl die grassnyer heen en weer oor die lang gras is, het ek begin om die randte af te sny. (En ja, ‘n weedeater sou ‘n merske verskil gemaak het!)  Nie lank nie, of daar kom Gerhard ook. Ons gaan haal die gesteelde weedeater uit Guppie se huis en hy beginne sny. Ongelukkig het die ding ‘n lem,  en dit deug nie met al die klippe en stene en goed hier nie. Toe ek weer my oë uitvee, is Quinton ook besig om die randte af te sny. Later kom Lucky ook by.

My groot irritasie is die bosse suikerriet wat die tuiniers vir hulself aangeplant het. Vanoggend wys Martin ons die verskil tussen ‘ons’ suikerriet en die suikerriet voor die baas se huis.  Die baas s’n is netjies getrim, en ons s’n is wille bosse met dooie takke op die grond. Net daar besluit ons die suikerriet moet waai. Die lem van die weedeater het handig te pas gekom,  en die suikerriet hét gewaai. Wonder bo wonder kom groot Joe daar aan en besluit om gras te plant waar die suikerriet eers was. In die bloedige hitte!

Teen middagete kom roep Frans ons vir ete. Sy vrou, Petunia (aka Pepsi), kuier op die oomblik by hom, en hulle het vir ons ‘n ete aanmekaar geslaan wat skrik vir niks. Skaapboud, gebraaide aartappeltjies, slaaie….dit was yammie! En baie welkom teen daardie tyd.

Ons het eers laatmiddag halt geroep. AL die gras was gesny. Joe se gras was geplant. Ons het ten minste ‘n begin gemaak met die edges. Ons het ons afval by die asgate gaan aflaai. Die plek lyk 80 % beter. ‘n Onverwagse fonds was ‘n broodboom wat agter ‘n bos teen die kremetart gestaan het. Nog in sy swart sakkie, en vir weet nie hoe lank vergete nie. O ja, en Quinton het op ‘n klein slangetjie afgekom!

Die son het ons karnuffel. Almal se gesigte lyk soos tamaties. Die mans wat sonder hemde gewerk het, se skouers is bloedrooi. Die suikerriet sal ek in die toekoms met meer respek hanteer:  my arms is vol rooi merke gesny en klein blasies waar die haartjies/dorinkies vassit. Maar dit was ‘n wonderlike dag. Almal was entoesiaties.  Ons het baie gelag, baie gevloek, maar vir ‘n slag het ons gebond en saamgewerk na ‘n gemeenskaplike doel.

Vanaand in die kroeg het die baas net sy kop geskud. Hy kon nie glo dat die gras in één dag gesny is nie. Gewoonlik vat dit twee weke. Ek lieg nie.



%d bloggers like this: