29
Aug
09

Ruwe Diamante

Jan 16, 2008 10:13 PM

Ek het in Desember ‘n Halfmens saamgebring Angola toe. Vir ‘n rukkie het ek mos gedink ‘n fyntuintjie sal goed doen in hierdie sonnige klimaat. Nadat alles jammerlik gefaal het, het ek besluit ek gaan nou konsentreer op geharde, inheemse plante wat die punch kan vat. Ek was dus baie in my skik toe ek by ons plaaslike kwekery (sal ek sommer hul naam noem??) ‘n halfmens te koop kry, mooi gelabel as “inheems”, en net vir R90! Groot was my teleurstelling toe ek bietjie gaan nalees oor die halfmens van Suid Afrika en agterkom my juweel is eintlik die halfmens van Madagaskar! Volgens die Soekershof-blog, is dit ‘n algemene foefie van kwekerye. Verkoop iets heel anders as “inheems”. Nou kyk, ek glo Madagaskar was eeue gelede deel van Afrika, maar nou is dit ‘n eiland, moer ver van ons ook. (Verskoon die taal, maar ek raak opgewerk.) Vir ‘n Suid Afrikaanse Halfmens het jy ‘n permit nodig, en siende dat dit net 0.5 – 1.5 cm ‘n jaar groei, gaan jou oor jou ore betaal vir ‘n opregte Suid Afrikaanse specimen wat so groot is soos my Madagaskar voorbeeld. So leer mens.  (Die foto heel regs is die halfmens van Madagaskar. Mooi, maar nie die ware Jakob nie.)

pachynam.jpg pachnamflow2.jpg lamerei.jpg

Dis nou ‘n lang storie om my te bring by my eintlike onderwerp: Aalwyne. Ek is ‘n nuwe bekeerling, en ken die verskillende tipes glad nie. Maar, ek is gehook for life. Aalwyne is totaal deel van Afrika. Daar is NIE aalwyne van Madagaskar of waar ook al nie. So kort as ‘n jaar gelede het ek gedink ‘n aalwyn is ‘n aalwyn. Toe nou nie! Daar is aalwyne EN aalwyne. Sommige groei wyd verspreid, van Kaappunt tot Angola, ander is beperk tot net ‘n klein gebied. Soos byvoorbeeld die Aloe polyphylla, wat net in die Maluti’s van Lesotho voorkom. Dié aalwyn is ook beskermd. Maar is dit nie ‘n dierbare dingetjie nie?

aloepolyl.jpg aloepolyphylspiral.jpg

Ek het vier spesies aalwyne in my rotstuin. Ek sal wat wil gee om hulle te identifiseer, maar kon nog nie ‘n raak beskrywing op die internet raakloop nie. Met al my research het ek egter ontdek dat in Oktober 2006 ‘n besluit geneem is om die flora van Angola te dokumenteer. Blykbaar is Suidelike Afrika, behalwe Angola, se flora redelik goed gelys en inligting daaroor maklik bekombaar. Dertig jaar se oorlog het egter tot gevolg gehad dat die Portugese se aanvanklike poging doodgeloop het. Dis ‘n opwindende vooruitsig! Dink net, ‘n hele land se flora wat basies onontdek en ongeïdentifiseerd lê en wag…

Wat maak my so lief vir aalwyne? Buiten dat ‘n aalwyn my man se kroonjuwele en my dogter se brandwond genees het, is dit ‘n geharde en maklike plant. Ons was een winter see toe, en in die vaal grassies het die plasse oranje my baie beïndruk. My aalwyne het al baie knocks weg. Van bakkies wat daaroor ry, tot onbeskofte buffels wat sommer daaroor loop. Elke keer kom hulle reg. Een spesie blom die hele jaar deur, nie net in die winter, soos die meeste aalwyne nie. ‘n Groot pluspunt is ook dat die donnerse boerbokke nie die goed vreet nie. Ek het die skoot hoog deur. Aalwyne laat my handpalms sweet en my pupille vergroot.

Moenie vir een oomblik dink aalwyne is boring nie. Dit kan die mooiste vertoning lewer…

aloearbor.jpg


Statistieke

  • 29 968 keer gelees
Augustus 2009
M D W T V S S
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31