29
Aug
09

Oomblik van Waarheid

Jan 16, 2008 10:13 PM

Vandag is die dag. Die dag waarna ek so baie uitgesien het, maar nou dat dit uiteindelik hier is, het ek hartkloppings en koue sweet. Vandag is ek veronderstel om amptelik die “tuindienste” van die kompleks oor te neem.

Wat ek ook al doen, dit sal ‘n verbetering wees op hoe dit nou lyk. Die gras is lank (soos in twee maande laas gesny), bossies neem oor, dooie takke lê die hele wêreld vol, en in geheel is dit ‘n prentjie van totale verwaarlosing. Ek het gevra om die drie tuiniers wat reeds hier is, oor te neem. Ja, hulle het vir maande die absolute minimum gedoen. Maar…ek hou van hulle, en ek dink hulle hou van my ook.

Ek beoog om streng te wees. Die normale goed: hulle moet aanmeld by my in die oggende, voor hulle op ete gaan en as hulle terugkom van ete. Daar gaan nie tweede kanse gegee word nie. Daar is nou lank genoeg geloaf. Aan die ander kant het ek laasweek uitgevind dat hierdie arme mense is nie geregtig op siekverlof of jaarlikse verlof nie. So, hulle moet jaar in, en jaar uit werk, met net Sondae af. Geen wonder hulle is nie gemotiveerd nie.

Dis die deel waarvoor ek bang is. Ek wil graag dat hulle ‘n liefde vir tuinmaak ontwikkel. Ek wil hê hulle moet trots op hul handewerk wees. Ek wil hê hulle moet die vrymoedigheid he om met my te kom praat as daar probleme is, hetsy persoonlik of werk. Ek wil hê hulle moet sien ons is ‘n span. Ek wil hê hulle moet gemotiveerd wees.

Ek was nog nooit ‘n baas nie. Ek weet nie of ek dit in my het om drie Portugees-sprekende mans aan my kant te kry nie. My siening is dat ek hulle regverdig sal behandel, maar hulle moet teenprestasie gee. Ek gaan hulle ‘n paar dae siekverlof gee asook jaarlikse verlof. Elke tweede Saterdag af. As Coke nie aan hulle middagete wil voorsien nie, sal ek self vir hulle iets gee. (Hier kom die mense hoofsaaklik werk vir daardie bordjie kos. ‘n Baie groot perk.) In ruil soek ek net eenvoudig harde werk.

Is ek naiëf? Kan dit gedoen word?



%d bloggers like this: