29
Aug
09

Ons gatte jeuk ook!

Jan 28, 2008 11:39 PM

Hoe kan ek die nuus dramaties breek?! Nee, die FVIP het toe nooit by ons ‘n draai gemaak nie. Hy het blykbaar verkies om slegs Luanda te besoek.  Dis moes my seker ook nie verbaas het nie, want dinge gebeur selde hier soos dit beplan is. Maar nou ja. Ten minste het die fabriek, en in ‘n mindere mate, die kompleks, ‘n mini-make-over gehad!  Verder het ek vandag ‘n splinternuwe Flymo uit Suid Afrika gekry. Tot die ding oppak, voel ek nou so gelukkig soos ‘n vark in Palestina.

Eerskomende naweek is ‘n langnaweek. Gewapende verset teen die Portugese het begin op 4 Februarie 1961. Die herdenking van hierdie dag is vir die Angolese baie belangrik. Tot die lughawe se naam is Quatro de Fevereiro. (4 Februarie Lughawe) Raar, maar waar! Maak nou nie vir ons saak watse dag hulle herdenk nie, die feit is, dis ‘n langnaweek! En…ek sidder om dit te sê, maar ek en Pa gaan ons stoute/stupid skoene aantrek en die suide van die land verken…

Ons het so effense roete uitgewerk, maar eintlik gaan ons net ry tot dit tyd is om om te draai. Ons hoop om die dorp Namibe, in die provinsie Namibe, te bereik. Dis heel aan die suide van Angola, en grens aan Namibië.  Totaal onbekend aan ons, maar volgens wat ons gehoor het, ongelooflik mooi. Sand, klippe en vetplante.

ons-roete.gif

Saterdagoggend wil ons vroegoggend in die pad val Sumbe toe. Dis glo so 6 ure se ry van ons af. Daar wil ons oorslaap, en die volgende oggend weer in die pad val.  Ons volgende stop sal hopelik (alles is hopelik!) Lubango wees. ‘n Ou kollega van my man werk nou daar, en ons hoop om hom weer te sien. Lubango, sê die wat weet, is so na aan beskawing as wat jy in Angola sal kry. Dáár kan jy glo by ‘n restaurant gaan eet met jou wyn op ys!   In die 1880’s het 55 Afrikanerfamilies hulle hier kom vestig. (Dorslandtrekkers) Tipies Boer, nie met die Portugese oor die weg gekom nie, en 45 families is Suidwes toe. Vandag is daar ‘n gedenknaald vir die Dorslandtrekkers op Lubango. Mens hoor snaakse stories van pikswart Angolese in die suide, wat Afrikaans praat, en name het soos Sarie Botha. Soos ek verstaan, het die swart arbeiders saam met die Boere gekom, maar was nie toegelaat om weer saam met hulle weg te trek nie. Hulle het aangehou Afrikaans praat, en het hul vorige base se name aangeneem.

Die pad tussen Namibe en Lubango is blykbaar ’n strukturele meesterstuk. Die pad slinger-slinger heen-en-weer teen die berge af. Ek hoop van harte ons kry dit te sien, maar niks is hier ‘n voldonge feit nie. AS ons bakkie hou. AS ons nie êrens toegesluit word nie. As. As. Soos my ma altyd sê, as dit die Here se wil is.

021300191.gif

Ek skuif nou alles op die back burner, want daar is baie om te doen voor ons ry. Dis nogal vir ons baie opwindend, want ek en my geliefde dink dieselfde oor dié trippie. Ons sal dit seker nie wéér doen nie, en ons wil alles sien wat ons kan. As ons dus wil stop om na ‘n klip of plant te kyk, gaan ons nie bekommer oor die tyd wat stap nie. Ons gáán stop en kyk.

As ek teen 7 Februarie nog stil is, sal julle weet waarheen om die soekgeselskap te stuur, nê!



%d bloggers like this: