29
Aug
09

My huisirritasie

Jan 25, 2008 9:51 AM

Dis die tweede post wat ek oor my bediende skryf. Nee, nie Rosina nie. Domingas, my Angolese huishulp. Vandag gaan ek vloek. Huishulp is sy nie. Huisirritasie, more like it.

Ek het haar in Augustus vaarwel toegeroep, en toe self die huis getakel. Miskien moet ek probeer terugdink na daardie tyd. Elke liewe dag se sleurtakies…. Nee, ek waardeer wat sy doen, maar vet weet, daar is genoeg om die hel uit my te irriteer ook.

Eers kom sy elke oggend 15 tot 30 minute laat hier aangesuiker. Sloef-sloef. Nie sloef-sloef-sloef-ek-is-laat nie. S L O E F  S L O E F nog…’n…dag…se…werk… Moenie dink jy spreek haar daaroor aan nie. Ek het al opgehou. Die mêdem is dadelik op haar agterpootjies. En moet ASSEBLIEF nie dink sy bly langer as sy die oggend laat was nie! Assefokkenblief nie!!

As sy hier aankom, betrek sy die badkamer. Dan change sy van kop tot tone in haar werksklere, en stapel haar fêncie klere, bra en pantie, op die (enigste) handdoekreling. Die hele dag kyk jy dan in hierdie rooi deurtrekkertjie vas. Nee, my moer, daar word niks opgecover nie. Elke intieme kledingstukkie hang daar oop en bloot vir agt ure lank.

Die skoonmaak is ‘n geval van ‘bo blink, onder stink’. As ek byvoorbeeld nie die bed wegskuif nie, word daar nie onder hom skoongemaak nie. Nooit. Hoeveel keer moet ek die bed wegskuif vóór die liggie aangaan? Hoeveel keer moet ek VRA dat daar afgestof moet word? Diere leer deur herhaling van opdragte, is dit nie? Wat my laat dink dis sommer plein luigatgeit.

Gister is sy besig om skottelgoed af te droog. Iets moes haar verward gemaak het, want ek hoor haar mompel, en vind haar besig om met daai wysvinger tot in die kleinbrein te krap. Toe gaan sy voort, dieselle wysvinger en al, om skottelgoed af te droog.

Nou het ek ook ‘n probleem wanneer my goed sommer gevat word. Veral hier, waar daar nie ‘n shoppie om die hoek is waar ek gou-gou ‘n tandestokkie of twee kan kry nie. Jip. Toothpicks is haar gunsteling. En dit gaan my einde beteken. As sy wéér so op haar pad huistoe gou-gou ‘n toothpick uit my kombuiskas kry, gaan ek ‘n donnerse hartaanval kry! Ons het self daai tandestokkies uit die kroeg gaan steel! Oorlat ons s’n klaar was! Deur háár toedoen!!  Daar is niks so erg om laataand te worstel met ‘n stukkie ding tussen jou tanne en dan uit te vind die stokkies is klaar nie…

Gewoonlik is sy teen so elfuur klaar ‘gewerk’. Dan wag sy basies net vir die klere om droog te word sodat sy kan stryk en waai. En mens kan haar frustrasie sommer aanvoel omdat ek die klere so laat gewas het. Ek bedoel, as die klere teen elfuur al droog was, kon sy gou-gou gestryk het en dan na middagete in die pad geval het! Terwyl sy wag, gaan sit sy teen die muurtjie buite, vir maklik ‘n uur, en doen NIKS. Staar net voor haar uit. Óf sy gaan kuier vir haar tjommies by die laundry.

Die enigste goeie ding wat sy doen, is dat die huis op die oog af skoon lyk. Maak nie saak dat die kombuiskaste met die toiletlap afgewas word nie. Of dat die toiletborsels of die vloer drooggeskud word en met (dieselfde) blou toiletlap afgevee word nie. Nee wat, as ek besoekers kry, dink hulle my huis is tip-top.

Dis seker al wat saakmaak.



%d bloggers like this: