29
Aug
09

Lubango, juweel van Angola

Feb 10, 2008 10:34 PM

Die Dorslandtrekkers was die eerste bewoners van Lubango, hoofstad van die Angolese provinsie Huila. In 1881 het hulle hul daar gevestig, en vir die volgende 50 jaar in hierdie vrugbare gebied geboer. Die Portugese regering het hulle burgerskap gegee, maar geweier om hulle eiendomsreg te gee van die grond waarop hulle gebly het. Boonop het die Portugese die Boere probeer forseer om die Katolieke geloof aan te neem, en van staatskole gebruik te maak. Die Dorslandtrekkers was nie hiervoor te vinde nie, en in 1929 het die laaste van die oorspronklik 55 gesinne wat hul hier tuisgemaak het, die land verlaat om in Suidwes-Afrika ‘n nuwe heenkome te vind.

Humpata, ‘n klein dorpie digby Lubango, was waar hierdie renegaat Boere hoofsaaklik gevestig was. Dít het ek eers besef nadat ons van ons ontdekkingstog suid teruggekom het. My man het foto’s van die naweek aan sy kollegas gewys, en toe hierdie kerkie opkom, het ‘n Angolees droogweg daarna verwys as die ‘Dorslandtrekkers se kerk’. Nêrens op die internet kon ek bevestiging kry dat hierdie kerk wel deur die Dorslandtrekkkers gebruik is nie, maar as mens na die kerkie kyk, is dit duidelik dat dit ‘n ou gebou is. Kanse is dus goed dat dit wel die Boere se kerk in diè dorpie was.

lubango-kerk

Lubango is ‘n pragtige dorpie, met, vergewe my hiervoor, ‘n ‘witmensatmosfeer’. Netjiese strate, mooi winkels, en met een van net drie Christus beelde in die wêreld. (Die ander twee is in Rio de Janeiro en Lissabon)  Die foto’s is bedrieglik, want dis ‘n reusagtige beeld, wat met arms oop,  bo-op ‘n berg oor Lubango waak.  Diè beeld is egter ‘n kleiner weergawe van die ander twee, en ook nie so bekend soos hulle nie.

lubango

Die Dorslandtrekkers het na Angola getrek omdat hulle nie gelukkig was met toestande in die Republieke nie. Vyftig jaar is ‘n lang tyd om op ‘n plek te bly, nogtans het hulle nie geskroom om wèèr te trek toe hulle gevoel het hulle godsdiens en kultuur word bedreig nie.

Is dìt nie eerder wat ons Afrikaners uniek maak nie? Nie braaivleis, rugby en volkspele nie, maar die streep in ons om nie vasgepen te word in ‘n situasie waarvan ons nie hou nie?  Die emigrasie-neiging wil-wil nou amper vir my begin sin maak…



%d bloggers like this: