29
Aug
09

Ja, Ding, ek onthou.

Jan 24, 2008 9:49 PM

Ding het my laat dink. Oor die soetigheid van onthou. Daar is net een ’soetigheid’ wat dadelik ‘to mind kom’. Rosina. My ousietjie vir 12 jaar.

Sy het in ons lewens gekom toe my oudste ‘n paar maande oud was. Ek was slim genoeg om in my derdejaar swanger te raak, en dit het my hart gebreek om my seuntjie by die hospitaal creche af te laai. Daar het ‘n aaklige vrou gewerk wat skynbaar geen liefde gehad het vir die kinders onder haar sorg nie. Vriende se bediende het Rosina aan ons voorgestel. Sy het dadelik ‘n goeie indruk gemaak. Omtrent veertig, kort, plomp, met ‘n oop, vriendelike gesig.

Sy het my tweede kind grootgemaak. ‘n Skreeuerige, mislike baba vir wie ek nie baie affiniteit voor gehad het nie. Rosina het haar gevat en makgemaak. As peuter het my dogter baie aande haar matras gevat en by Rosina gaan slaap. Rosina het vir my kinders stories ‘gelees’. Sy het hulle gevat en gaan stap, strate op en strate af. Sy het hulle gebad. Saans het hulle Rosina ‘goodnight’ gesoen. Sy het geweet dit krenk my ou Suid Afrika siel, en het skelmpies teruggesoen, waar ek nie kon sien nie.

Ek en my man is ook bederf. Sesuur elke oggend het sy ingekom met ‘n skinbord. Tee vir my man, koffie vir my. Sy het vir die kinders pap gemaak, broodjies vir skool gemaak en die kinders afgesien by die skoolbus. Ek het geen bekommernisse gehad nie. Rosina was ten volle in beheer van my lewe. My behoeftes het sy vervul voordat ek geweet het dis daar. Dit was maklik om klein kinders te hê met Rosina om te help.

Toe ek en my man skei, moes sy kies waar sy wou bly. Niemand het dit so aan haar gestel nie, maar dis waarop dit neergekom het. Haar lojaliteit was by my man. As mens die omstandighede rondom die egskeiding in ag neem, kan ek haar nie kwalik neem nie. My man het na ‘n ander stad getrek. Rosina is saam. Later is hy terug Brittanje toe, en daar het ek haar spoor verloor.

Toe ek in November in Suid Afrika was, het ek probeer om haar op te spoor. Ek het so brandende gevoel om weer met Rosina kontak te maak. Net om te weet sy is oukei. Net om ou krapperigheid uit die weg te ruim. Ek kon haar nie in die hande kry nie.

Sy moet vandag omtrent sestig jaar oud wees. Ek wil so graag weer met Rosina Mutileni kontak maak. As ek oor drie weke huistoe gaan, gaan die soektog voort. Ek skuld haar baie.



%d bloggers like this: