29
Aug
09

I want to mend my diet.

Jan 23, 2008 9:54 PM

Nadat ek vanaand The Diet Doctors op BBC Prime gekyk het, het ek weereens besef hoe ek, en ek glo die meeste mense, ons liggame vergiftig. Letterlik v e r g i f t i g. Die ’subject’ was ‘n jong vrou, erg oorgewig, met gereelde sistitis (blaasontsteking) en fungusinfeksies. Haar dieet het hoofsaaklik bestaan uit sjokolade vir ontbyt en middagete.

Die diet doctors het haar op ‘n gebalanseerde dieet geplaas en ‘n paar aanvullings gegee. En sy moes oefen. Na drie maande was haar, voorheen asvaal,  gesiggie blosend, die kringe om haar oë het verdwyn. Sy het heelwat gewig verloor en haar infeksies was iets van die verlede.  Én sy was propvol energie.

Hulle het ook ‘n proefkonyn, ‘n voormalige Olimpiese swemmer, gekry om vir twee weke lank iets soos agt sjokoladestafies per dag, te verorber. Sy kon net agt of nege dae uithou. Die resultate was nogal verstommend. Behalwe dat sy heelwat gewig opgetel het, het sy ook moeg en lusteloos begin raak. Haar maag was opgesit en sy was baie winderig. Ook interessant dat haar ekstra gewig veral om haar maag saamgepak het. Haar longkapasiteit het met 10 % verswak en haar bloeddruk het verhoog.

Dis net nie altyd so maklik om die regte goeters te eet nie. Wel, ja én nee. Ons dieet hier is baie beperk. Ek het ‘n papaja, piesangs en twee appels op die oomblik in die huis. Die enigste vars groente is uie en aartappels. Die spinasie in die tuin is amper kapoet, maar ek kan darem nog af en toe ‘n paar blaartjies kry. Brinjals het ek baie, maar ek weet nie regtig wat om daarmee te maak nie, en volgens die internet, is dit ook nie juis ryk aan enige besondere voedingstowwe of vesel nie. Bevrore groente op hierdie stadium, slegs broccoli. Voor ons nie weer by Shoprite of Pavel ‘n draai gaan maak nie, gaan ons nie juis kan kies en keur tussen groente en vrugte nie!

Waaroor ek wel beheer (kan) hê, is die vloeibare gif wat ek in my keelgat afgooi! In Suid Afrika drink ek omtrent niks, maar hier kan ek Amarula net nie weerstaan nie. As die son sak, trek my kiewe saam van lus vir ‘n bietjie van die romerige genot!  En koffie, bekers en bekers elke dag.

Ek moet eerlik wees, ek het nie regtig gesondheidsprobleme nie. My een dokter het mos gesê ek is so ‘basiese’ mens! Maar ek is gou lam en tam en  sukkel ook maar met vetrolle. As ek ‘n probleem móét uitsonder, sal dit ‘n ‘bloated’ maag wees. (’Bloated’ sê mos alles!) Ag, en dan het ek ook seker ‘n vaal gelaatskleur, en definitief kringe om my oë.

Van more gaan ek nou rêrig kyk wat ek eet. Al moet ek my eie spinasie-appel-ui slaai ‘ontwerp’, gesonder eet gaan ek definitief probeer. Ek kan hierdie hangende voorskootmaag net nie meer uitstaan nie! En Amarula….K O E B A A I !!!



%d bloggers like this: