29
Aug
09

Groentee maak my groen

Ek en my man is gróót koffiedrinkers. Die tweetjies van ons vlieg deur ongeveer 5 groot blikke koffie ‘n maand. Ons is ook nie koffie-snobs nie. Ons gunsteling brand is Koffiehuis, maar Ricoffee is ook skaflik. Op die raar geleenthede dat ons koffie opgeraak het voor ons by Shoprite kon uitkom, het ons selfs die aaklig-sleg Angolese koffie gedrink. Tee speel geen rol in ons lewens nie. Om die waarheid te sê, die gedagte aan tee laat my maag sommer draai.

Kersfees het die baas vir my  lieflik-verpakte tee gegee. Gekoop in China toe hy einde laasjaar met vakansie was. Groen tee. Die pakkie staan nou nog op my tv-kas. Ek het bietjie gaan lees oor die voordele van groentee. (Ek drink sowaar nie tee tensy dit iets goeds vir my kan doen nie!) Groentee help vir baie dinge, klink dit my:

-Voorkom kanker

-Verlaag cholesterol vlakke

-Help met gewigsverlies

-Goed vir kardiovaskulêre gesondheid

-Voorkom tandkaries

-Beveg infeksie

-Versterk immuunstelsel

Met soveel goeie dinge wat dit doen, moet ek seker begin drink! Die probleem is, groentee is sleg!! En ek lees êrens dat mens 4 – 5 koppies moet drink om die “benefits te reap”.  As kind kon ek olywe nie verdra nie, maar het dit begin eet omdat my man so lief is daarvoor. Vandag hou ek nogal self van olywe. Ek probeer myself oortuig dat ‘n liefde vir groentee ook aangeleer kan word.

As ek myself net so ver kan kry om daai eerste koppie te maak…



%d bloggers like this: