29
Aug
09

Dood het nie ‘n angel nie

Jan 16, 2008 10:13 PM

Een aand moes ons ‘n pasiënt, ‘n bejaarde man, vanuit Intensiewe sorg na die Hoësorg eenheid skuif om plek te maak vir ‘n ander, sieker,  pasiënt. Soos dit maar gaan, het die man skielik begin verswak. Tussen die gewoel en werfskaf om hom, het hy skielik sy oë oopgemaak en opgekyk. En gesê, in ‘n rustige, helder stem: “My God, I am coming to You”. Omtrent ‘n halfuur later is hy oorlede.

Die voorval het my hoendervleis gegee. Die dood was nog altyd vir my ‘n misterieuse gebeurtenis, maar dit was ‘n indikasie dat dié man gewéét het hy is besig om dood te gaan. Dit het hom duidelik nie beangs gemaak nie. Mens kon amper sê dat dit gelyk het of hy uitsien daarna.

Die klein kliniek waar ek jare later gewerk het, het my die geleentheid gegee om die dood in al sy glorie te beleef. Dààr het ek tyd gehad om net by ‘n sterwende se bed te SIT. Miskien sy/haar hand vas te hou. ‘n Waardige ou dame, terminaal siek, het eenmaal uit haar semi-koma gekom en my gesien sit langs haar bed. Sy het geglimlag. “Sit, Brutus!”, het sy gesê. Ek het net GEWEET dat sy nie alleen wou wees nie, al sou sy dit nooit, ooit sê nie. Dis ook sy wat eendag aan my gesê het dis nie dat sy nie wìl doodgaan nie, maar dis so onbekende pad. Dit was slegs die onbekendheid daarvan wat haar laat huiwer het.

Ek sal nooit sinies kan wees oor God nie. Dood en God loop hand aan hand. Iemand wat wonder oor God, het sekerlik nog nie die Grootheid van God  langs ‘n sterfbed beleef nie. Die voorstelling van “Death” as ‘n figuur in ‘n donker kleed met ‘n sekel in die hand, is vir my ‘n wanvoorstelling van ‘n gebeurtenis wat eintlik wonderlik is. Soos ek dit in my geestesoog sien, lê en wroeg ‘n terminaal siek mens met sy ou wêreld en alles wat daarmee saamgaan, en die Nuwe Wêreld wat hy moet betree. Hy wil, maar hy wil ook nie. En tussen dit alles deur is God met hom, en oortuig Hy die sterwende mens van Sy liefde en beskerming.

Dis eers as jy by ‘n lyk staan, dat jy besef dat die liggaam bloot ‘n tydelike blyplek vir ‘n mens se siel/gees/wat-ook-al is. Die “vibrance” van ‘n mens sien jy nie in sy liggaam nie. Dis iets wat van binne af kom. Iets wat mens nie kan vasvat nie. Die gesegde dat ‘n mens se oë jou innerlike weerspieël, is ook waar. ‘n Dooie liggaam se oë is dóód. Daar is geen lag of vonkel in daardie oë nie. Die essens van ‘n mens gaan êrens anders heen as hy sterf.

Dood het wraggies nie ‘n angel nie. Nie vir die mens wat sterf nie. Dis ons arme siele wat agterbly, wat sukkel en swaarkry. Hoekom? Ek het dit al vir myself probeer ontleed, en dis wat ek dink: omdat jy nooit weer daardie mens sal sien nie. Nie hier op aarde nie, in elk geval. Mens huil as iemand doodgaan omdat jy al klaar verlang as jy dink aan jare se Kersfeeste en familiebyeenkomste waar daardie mens nie sal wees nie. En as mens verlang, dan verlang jy. Klaar! Geen mooi woordjies maak dit beter nie. Of my broer dood is, of in ‘n ander land is, verlang gaan ek verlang.

Die troos is, eendag, eendag, sien ons mekaar wel weer. Dit glo ek vas.

Hoekom skryf ek vandag hieroor? Dalk omdat ek vandag op my broer se begrafnisbriefie afgekom het. Definitief nie omdat ek dink ek het àl die kennis in pag nie. Daar is ‘n goeie kans dat ek die pot totaal missit. Feit bly, tot ek iets anders sien wat my opinie gaan verander, bly die dood vir my ‘n wonderlike, heilige gebeurtenis. Die dood is nie vir sissies nie.



%d bloggers like this: