29
Aug
09

Afwesige Tuindienste

Ek het ‘n posting belowe oor die tuine. Ag ja. Ek het nou ‘n idee hoe ‘n gemolesteerde kind voel. Nie dat ek dink my situasie is naastenby so erg soos dié van ‘n gemolesteerde kind nie. Ek verstaan egter nou die skuldgevoel, sonder dat jy die sondebok is.

Kom ek gee ‘n tydlyn. In November 2007 belowe die baas my die joppie. Ek is Desember weer terug in Angola. Hy bevestig dit weereens. In die week tussen Kersfees en Nuwejaar, dring hy daarop aan dat ek 7 Januarie moet begin. ‘n Grootkop kom die plek besoek 24 Januarie, en dan moet dit spiekeries lyk. Ek kanseleer my vlug vir die 8ste Januarie, en laat my kinders alleen afgaan. Donderdag 3 Januarie, kom sien die baas se sekretaresse my om die fyner detail te bevestig. Vrydag is ‘n publieke vakansiedag. Saterdag is die tuindienste-dame hier met omtrent 1000 man. Dit sny gras, snoei bome – by die baas se huis. Maandag 7 Januarie is ek vroeg wakker, reg vir aksie. Niks gebeur nie. Ek skryf my posting, en wag. Niks gebeur nie.

Maandag het vir my gekom en gegaan. Niks het gebeur nie. Het met die baas gepraat, maar hy kon my ook nie duidelikheid gee oor wat aan die gang is nie. Dit lyk asof Elizabeth se kontrak nog nie beëindig is nie! Hy sê ek moet net aanhang, hy sal my op hoogte hou.

Dinsdag het daar so 5 werkers hier rondgehang, maar nie veel gedoen nie. Woensdag is die tuinslange, grassnyers en al die ander toerusting verwyder van die kompleks. Volgens ‘n baie windgat werker gaan EK van nou af die tuine hier doen. My hart wou ‘n bietjie lig, maar Donderdag was alles weer terug op hul plek en het die werkers weer bietjie gewerk. So ook Vrydag en Saterdag.

Ek is baie gefrustreerd. Ek gaan die baas sowaar nie wéér vra wat aan die gang is nie. Dit maak my histeries om hier rond te loop en te sien hoe die werkers met ‘n tuinslang in die hand die gras water gee. Geen gras word gesny nie, geen bossies word uitgetrek nie, geen, geen werk word gedoen nie. As die Elizabeth naastenby ‘n goeie diens gelewer het, sou ek kon verstaan hoekom daar gehuiwer word om my nou finaal aan te stel. Die feit is egter, die plek het in twee jaar nog nie so sleg gelyk nie. Die mans kla almal, maar ek kan niks doen nie.

Die baas kom selde, indien ooit, by die onderste huise uit. Ek vermoed die werkers weet dit al te goed, want die enigste werk wat gedoen word, is rondom sy huis. Hier is die evidence:

dscf0126.jpg dscf0157.jpg

dscf0159.jpg dscf0132.jpg

dscf0130.jpg dscf0158.jpg

En so lyk dit by die baas:

dscf0165.jpg dscf0166.jpg

I give up.



%d bloggers like this: