29
Aug
09

18 LV BE WARNED!

Ek is so kwaad en gefrustreerd soos ek in ‘n lang tyd nie was nie. Gewoonlik sit ek ‘n goeierige voetjie voor op my blog, maar vanaand gaan hierdie landmyn ontplof. Dit mag dalk klink soos ‘n geteem oor stront, maar damn! Dis mý stront, en dis vir mý belangrik!

Dis dalk tyd vir my om terug SA toe te gaan. Ek kan die set-up hier net nie meer uitstaan nie, en daar is nie ‘n nasie onder die son wat ek meer pes as ‘n verdomde Angolees nie. Laat ek begin by die begin.  (Eers ‘n diep asem vat….want dis ‘n flippen (lees fokken) lang storie.)

‘Die Kompleks Tuine’. ‘n Groter klug was daar nog nie gewees nie. Nadat ons verlede naweek gras gesny het, was daar Maandag twee tuiniers. Hulle het snot en trane geween oor hul suikerriet wat daarmee heen was, en het ‘n halfhartige poging ingesit om die edges te begin doen. Sederdien – spoorveld. Die hele donnerse week. En almal is op my case oor die VVVIP wat more kom. Wat de moer moet ek doen? Die vrou wat die kontrak het vir die tuine, is veronderstel om nog hier te wees tot die einde van Januarie. Waar is haar werkers? Dis mos dan nie mý probleem om die tuine in orde te kry nie?

Saterdag huur ek twee ‘casuals’ om te help om bietjie orde te skep. Ek, Martin en my man werk net so hard saam. Die tweetjies se job is om van al die ka…stront wat hier lê, ontslae te raak. En daar is baie. Pype, klippe, stukkende stoele, bakstene, takke, blikkies, bottels….you name it, its there. Hulle kry dit bymekaar, en die twee mans ry dit weg na die asgate. Die ooreenkoms was: van agt tot vier, middagete ingesluit, en ‘n 1000 kwanzas elk. Dis omtrent R100 elk, en fokken baie as mens in ag neem dat die going rate hier 5 dollar per dag is.

Twee-uur die middag kom die tweetjies aangesuiker, hulle is nou klaar gewerk. Teen daai tyd was ons gô ook al uit, en het nie gekla nie. Maar my magtig! Toe dit by die betaalslag kom, eis die twee 3000 kwanzas elk!! Die rede: hulle moes van my, my man én Martin orders vat!  Ek het omtrent ‘n oorval gekry. Dít nadat ek aan hulle verduidelik het dat ek van volgende maand voltydse mense soek! Ons het hulle op die ou einde 1500 kwanzas elk gegee, en hulle in hul peetjie gestuur. Voltyds werk hulle nie by mý nie.

Langs ons huis ( en my precious rotstuin wat ek net GISTER klaargemaak het) loop ‘n paadjie verby wat nog nooit met sement ‘gegooi’ is nie. (Ek weet regtig nie wat die regte term is nie, ek praat nou maar nes die mans.)  Omdat die fokken VIP more kom, is die hele plek mos in rep en donnerse roer. Vrydag begin die Angolese die paadjie oopkap. Die kremetart se wortels loop regdeur die paadjie, en hulle het nie gereedskap om die goed aan te durf nie. Geen probleem. Ek het mos ‘n anker – wat ek met groot moeite op ‘n strand gesteel het – in my rotstuin. Toe ek weer sien, gebruik hulle my ankertjie as ‘n bleddie pik! Maar, ek het ‘n sagte hart, en laat hulle begaan. Die paadjie is ‘n modderspul as dit reën, en dit sal my ook pas as daar sement ‘gegooi’ is.

So werk hulle dwarsdeur die naweek. Vandag begin hul sement gooi. Oukei, hulle gebruik mý klippies wat die kontrakteur net in hierdie week nog vir mý kom aflewer het. Ek hou my snater en laat hulle begaan. Maar die fok vet weet, vanaand, nadat hulle klaargemaak het, gaan hou ek inspeksie. Klippies is sommer van my rotstuin ook geskraap. Die absolute laaste spyker in my kis, is dat my lugplant ook weg is. Al die pad van Suid Afrika saamgebring. Weg. Net fokken weg.

Ek hoop van harte die vername man kom hou more inspeksie in mý huis. Want blykbaar kies hy twee of drie huis om ‘inspeksie’ te hou. As die baas weet wat goed is, hou hy hom ver, ver weg van my. Na dese dink ek ook dis sommer nonsens dat ons soos plebs lewe, en net as ‘n FVIP hier kom kuier, alles oornag reggeruk moet word. Dalk móét hy sien hoe haglik dit gewoonlik hier by ons lyk. En terwyl hy hier is, sal ek hom sommer innooi vir ‘n koppie koffie. Of ‘n bier. Miskien as hy by my voordeur instap en ‘n grassnyer, kruiwa, vurke, grawe, harke, skoffels en tuinslange in my voorportaal sien, sal hý aanbied om vir my ‘n garden shack te kry.



%d bloggers like this: