Archive for Augustus 29th, 2009

29
Aug
09

Lubango, juweel van Angola

Feb 10, 2008 10:34 PM

Die Dorslandtrekkers was die eerste bewoners van Lubango, hoofstad van die Angolese provinsie Huila. In 1881 het hulle hul daar gevestig, en vir die volgende 50 jaar in hierdie vrugbare gebied geboer. Die Portugese regering het hulle burgerskap gegee, maar geweier om hulle eiendomsreg te gee van die grond waarop hulle gebly het. Boonop het die Portugese die Boere probeer forseer om die Katolieke geloof aan te neem, en van staatskole gebruik te maak. Die Dorslandtrekkers was nie hiervoor te vinde nie, en in 1929 het die laaste van die oorspronklik 55 gesinne wat hul hier tuisgemaak het, die land verlaat om in Suidwes-Afrika ‘n nuwe heenkome te vind.

Humpata, ‘n klein dorpie digby Lubango, was waar hierdie renegaat Boere hoofsaaklik gevestig was. Dít het ek eers besef nadat ons van ons ontdekkingstog suid teruggekom het. My man het foto’s van die naweek aan sy kollegas gewys, en toe hierdie kerkie opkom, het ‘n Angolees droogweg daarna verwys as die ‘Dorslandtrekkers se kerk’. Nêrens op die internet kon ek bevestiging kry dat hierdie kerk wel deur die Dorslandtrekkkers gebruik is nie, maar as mens na die kerkie kyk, is dit duidelik dat dit ‘n ou gebou is. Kanse is dus goed dat dit wel die Boere se kerk in diè dorpie was.

lubango-kerk

Lubango is ‘n pragtige dorpie, met, vergewe my hiervoor, ‘n ‘witmensatmosfeer’. Netjiese strate, mooi winkels, en met een van net drie Christus beelde in die wêreld. (Die ander twee is in Rio de Janeiro en Lissabon)  Die foto’s is bedrieglik, want dis ‘n reusagtige beeld, wat met arms oop,  bo-op ‘n berg oor Lubango waak.  Diè beeld is egter ‘n kleiner weergawe van die ander twee, en ook nie so bekend soos hulle nie.

lubango

Die Dorslandtrekkers het na Angola getrek omdat hulle nie gelukkig was met toestande in die Republieke nie. Vyftig jaar is ‘n lang tyd om op ‘n plek te bly, nogtans het hulle nie geskroom om wèèr te trek toe hulle gevoel het hulle godsdiens en kultuur word bedreig nie.

Is dìt nie eerder wat ons Afrikaners uniek maak nie? Nie braaivleis, rugby en volkspele nie, maar die streep in ons om nie vasgepen te word in ‘n situasie waarvan ons nie hou nie?  Die emigrasie-neiging wil-wil nou amper vir my begin sin maak…

Advertisements
29
Aug
09

Liewe Rooi Kolle

Feb 9, 2008 7:33 PM

Ek het ook onlangs vir my ‘n Clustrmap opgesit. So af en toe kyk ek daarna. En elke keer besef ek net hoe klein ons ou wêreldjie geword het. Maar, dit gee my ook ‘n warm gevoel om die hart. Drie dotjies in die VSA, een dotjie in Australië, ‘n paar in Europa… Ek weet nie wie hierdie onbekende besoekers is nie, maar hulle is nie onwelkom nie. Dat hulle die tyd neem om by mý in te loer…sjoe!  Aan al die ‘dots’ op my map: Dankie!

29
Aug
09

Ou Gunstelinge? Ek weet nie…

Feb 9, 2008 7:33 PM

Adelem het my getag om my 5 gunsteling possies te kies. Dis moeilik, want ek lees dit nooit weer nadat ek die ‘publish’ knoppie gedruk het nie. Maar, here goes…

Ruwe Diamante –  oor my liefde vir aalwyne

The Christmas Truce – ‘n storietjie uit die Eerste Wêreldoorlog wat my hoop gee in vandag se tye.

Af Vis – ‘n  storie uit die dae toe ek nog gewerk het!

My dag by die Mall – net nog ‘n dag in ons nuwe Suid Afrika

Dood het nie ‘n angel nie – iets wat ek net móés skryf.

Ek is deesdae nogal besig – kom nie baie by die blogs uit nie. Die tuinery maak my dood!  (Grappie, ek geniet dit baie!!)

29
Aug
09

Onbekende Woestynplant

Feb 7, 2008 9:20 AM

Asseblief, Suidwesters/Namibiërs, kan julle my dalk sê watse plant dié is? Ons het daarop afgekom net noord van Namibe (die hoofstad van Namibe), en ek raak waansinnig omdat ek niks op die internet kry nie! Ek sal enige hulp baie waardeer!

copy-of-dscf0417.jpg

copy-of-dscf0415.jpg

29
Aug
09

Tien oorsake vir my pap battery

Feb 6, 2008 4:38 PM

Tien goed wat water op my battery is….  Dankie, Vokkie, weet jy hoe dit my grief as ek hard moet dink…?

1.  Mense wat hul kinders (veral kleintjies) emosioneel of fisies mishandel. As ek stories hoor van ouers wat hul kinders by casino’s laat rondhang  – terwyl die ouers dobbel – tot wie weet watter tyd van die aand/oggend, raak ek die kluts heeltemal kwyt.  Hoekom het mens kinders as jy hulle nie wil versorg nie?

2.  Mense wat hul vriende in die rug steek. Lojaliteit is vir my een van die belangrikste eienskappe van ‘n ware vriend. Al maak jy droog, ‘n ware vriend sal jou nie versaak nie. Ook nie met die vyand heul nie.

3.  Mense wat my tuin/plante verniel/steel/minag, laat my ROOI sien!  Enough said.

4.  Opel en Citi Golf bestuurders. Hulle wil alewig dice, en wen gewoonlik. Veral Opel bestuurders. Ek het nog nooit ‘n gematigde Opelbestuurder gesien nie. Jaag, jaag, jaag…

5.  Ek PES mense wat floreer op onmin. Mens sien dit nogal baie op die blogs. By die eerste teken van krapperigheid, is hierdie siele daar. Soos klein kefferbrakkies sit hulle en stook nog meer kwaad. Hoekom? Ek kan dit nie verstaan nie. Hoe kommin moet mens wees om só meegevoer te raak wanneer mense mekaar letterlik met woorde vermoor?

6.  Mense wat wil indruk maak deur onverstaanbare, hogere Afrikaans te praat. Dis die een vreemde woord op die ander. Kan mens nie oor politiek of godsdiens praat in gewone, verstaanbare Afrikaans nie? Of miskien moet ek dié een maak: ek pes mense wat slimmer as ek is!

7.  Ekstremiste maak my siek. Of dit nou oor geloof, politiek, natuurbewaring of Steve Hofmeyr gaan.

8.  Statusbewuste mense grief my ook. Ek gee nie om hoeveel jou persiese mat gekos het, of hoe duur jou hairdresser is nie. Ek stel doodgewoon nie belang daarin nie. Sê my eerder hoe groot jou totale skuld is, dit behoort baie meer interessant te wees.

9.  Ek haat die feit dat die lewe oor net een ding gaan:  GELD.

10.  En die laaste, en belangrikste ene: ek raak waansinnig van woede as iemand een van my kinders te na kom. Onderwysers wat geen liefde vir kinders het nie, oulike mammas wat vir my wil vertel hoe ek my kinders moet grootmaak, familielede wat my kinders se tekortkominge wil uitwys, enigiemand:  PASOP!!  Vir my kinders moor ek…

29
Aug
09

Vinnige Update

Feb 6, 2008 7:37 AM
copy-of-dscf0435.jpg

As hierdie ou staatmaker ‘n perd was, het ek hom vandag suikerklontjies gegee! Ou Fortyfour het ons deur 2000 km gebring, en nooit in die steek gelaat nie. Selfs wanneer ek gedink het dis nóú tickets met ons, het hy net moedig aangegaan en rustig voortgedreun. Ek raak gewoonlik nie sentimenteel oor karre nie, maar hierdie wa verdien ‘n medalje!

Ons het gisteraand laat by die huis gekom. Ek is nie spyt ons het die tog onderneem nie, maar ek gaan dit wraggies nóóit weer herhaal nie. As ek verlede week geweet het wat ek nou weet, sou ek seker nie gegaan het nie, maar dan sou ek nie beleef het wat ek beleef het nie.  Dit was ‘n naweek vol hoogtepunte, maar daar was  ’n paar scary, scary oomblikke ook…

Ek moet vandag afpak – ons het net ons klere gegryp en gaan bad en slaap – en Fortyfour die was van sy lewe gee. Vandag, so is dit gerëël, moet die nuwe tuiniers ook begin. Ek sal later by die blogs inloer – en ja, Vokkie, ek gaan begin dink aan die dinge wat my afpiepie – en behoorlik verslag doen van die naweek.  Ek het so baie om te wys en te vertel, ek weet nie wáár om te begin nie!

29
Aug
09

Die heengaan van Fluffy

Feb 1, 2008 1:16 AM

My man is ‘n liewe ding. Vreeslik saggeaard, maar vreeslik droog ook. Gistermiddag tydens sy etensuur, sit ons op die stoepie en kyk na ‘n spreeu wat ‘n ‘custard apple’ eet. Hy lag toe so half verleë en vertel my dat hy eendag ‘n spreeu doodgeskiet het. Nou, vir my man, is dit ‘n groot erkenning. Hy maak net spinnekoppe dood. Moorddadig is hy nie. En hy verduidelik nogal, hy het nie gedink hy gaan die voël raakskiet nie. Toe hy sien die voël is oorlede, het hy sommer begin huil. Hy was so nege jaar oud.

Ons sit vir ‘n oomblikkie in stilte. O, vra hy my, het hy my al vertel van die keer toe hy sy ma se kat doodgemaak het? My bek hang oop. Mý man ‘n kat doodmaak?? En nogal sy ma se kat?  Dié storie het my die horries gegee, maar ek moes lag.

Hy was in standerd nege.  Hy het ‘n Biologie-taak gehad om te doen. Eintlik het hulle vier maande tyd gehad om die taak te doen, maar hy en sy twee maters het gewag tot op nommer nege-en negentig. Die taak het behels dat hulle ‘n dier se skelet moes monteer op ‘n staander. So, hulle moes ‘n dier se lyk in die hande kry. So week voor die taak ingegee moes word, skrik hulle driemanskap wakker. Hulle moes nou gou ‘n oorle diertjie kry. Ek weet nie hoe die keuringsproses gewerk het nie, maar manlief se ma se kat was die ongelukkige wenner.

Hy vertel sy ma was besig om te brei terwyl sy na Springbokradio se stories geluister het een middag. Hy het haar doodonskuldig gevra of hy Fluffy (die kat) maar kan kry.  Ingedagte, soos ma’s mos maar is, het sy gesê dis reg. Hy het arme Fluffy in ‘n boks geprop, en met ‘n tuinslang die ding probeer vergas terwyl die maat sy motorfiets ‘gerev’ het. Paniekbevange het Fluffy dit reggekry om te ontsnap, maar met die tweede probeerslag het die springende boks later stil geword.  Dís waar sy ma toe op die petalje afkom. Die resusitasie-poging was onsuksesvol…

Sy arme ma was hartgebroke, maar die kat was reeds dood en daar was ‘n Biologie-taak wat gedoen moes word. Fluffy is opgekook, maar ongelukkig het hulle die saak oordoen en haar skedel skoon weggekook. Amoeba, die ander maat, loop dieselfde tyd in die veld en gooi met ‘n gelukskoot ‘n haas dood. (Nou begin dit soos ‘n wolhaarstorie klink!)  Die haas se kop word toe versigtig skoongekook en saam met die kat se bene op die huis se dak gesit om te verbleik.

Die taak is ingegee:  katgeraamte met ‘n haaskop. En hulle kry 100 % vir dié taak. Die onderwyser het nie ‘n idee wat hulle aangevang het nie!  Jare later, tydens ‘n reünie, sien hulle die ‘kat’ weer. Nog steeds in die Biologie laboratorium.  Nog steeds ‘n prag stukkie werk.  Arme Fluffy.




Statistieke

  • 26,349 keer gelees
Augustus 2009
M D W T V S S
« Mar   Sep »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  
Advertisements