03
Dec
09

Die liefde verdra alles…

19 Maart 2009

Shucks.

Paulo, my kort, ronde tuinboytjie, kom nou die dag by my aan met ‘n plastieksak.  Beduie ek moet om die huis stap na waar my tamatietjies in bakke is.  Trek met groot genoegdoening ‘n botteltjie Ripcord Insecticide uit en vertel my dit kom van Africa de Sul af.  En belowe my hand en mond hy gaan more (vandag) my tamaties vir  my spuit.  Want sien, hier en daar is blaartjies afgevreet.

Ek sidder in my hart.  Ek hou nie van chemikalieë op my plantjies nie, maar sy goedige gesig straal en verdomp! hoekom sal ek hom sy plesier ontneem?  Hy dink hy gaan my een merske guns doen.

Vanmiddag lui hy die klokkie.  Ja-nee, hy het klaar die tamaties ‘gespuit’.  Ek eye die groen toeskroef-koeldrankbotteltjie en maak amper ‘n flik-flak agteroor.  Omtrent 50 ml melkerige vloeistoffies in die bottel.  Varksog, dit moet met iets soos 5  liter verdun word!  :shock:

Toe ek uiteindelik genoeg moed bymekaar skraap, sluip ek netnou om die huis na die tamaties toe.  My hart gaan staan:  my arme bybies, seker nog nie 5 cm hoog nie, hang pap en moedeloos oormekaar….

Ek kan nie nou kla nie.  Ek het geweet hier kom ‘n calamity van epidermiese proporsies…

02
Dec
09

Bring vir ons die Boere

27 Maart 2009

Vir ‘n wyle het ek nou al ‘n ‘gevoel’ gehad oor Afrikaners in Afrika.  Veral so  met die Kongo en Ghana wat boere uit Suid Afrika wil lok.  Dit was egter net dit:  ‘n gevoel, en daarom het ek niks daaroor gesê nie.  Gisteraand het ek ‘n bietjie bevestiging gekry dat dit wel so is.

Gisteraand het ons ‘n ‘do’ in die lapa/kroeg gehad.  Dit was een van die hogere manne se verjaardag.  Toevallig maak hy oor twee weke klaar hier, en dan gaan die hele topbestuur net Portugese wees.  ‘n Groot verandering.  In die verlede het die Boere hier die sweep geklap, maar hulle is stelselmatig uitgeskuif en vervang met Portugese.  Nou, my ervaring van die Porras is ook glad nie wetenskaplik nie.  Dis net ‘n waarneming wat ek maak  hier in my klein kokon in die Angolese gopse.  Portugese staan saam.  No outsiders welcome.  Hulle ‘kyk uit’ vir mekaar.

Om die drade bymekaar te bring.  Sedert my man 5 jaar gelede hier begin werk het, is hier ‘n Angolees, A, wat ‘n aartsrassis is.  Hy kon die wit Suid Afrikaners nie voor sy oë verdra nie.  Eintlik was hy die kroonprins – hy was veronderstel om op die ou einde ‘plant manager’ te word.  Dit het nie gebeur nie.  Daar was weer ‘n Afrikaanse  bestuurder, en nou nà hom, ‘n Portugese/Brasiliaanse bestuurder.  Dit het hom dalk nog meer galbitter gemaak; ek weet nie.  Al wat ek weet, die wit ex-pats het gebars onder hom.

Stelselmatig het hy ‘makker’ geword, maar die Boere het hom nie eintlik vertrou nie.  As daar ‘n mes in iemand se rug gesteek kon word, het A dit gedoen.  (Ek moet byvoeg:  een Kersfees het hy ons voete onder ons uitgeslaan toe die deurklokkie lui en hy daar staan met ‘n geskenk vir Pieter.  En ook nie sommer ‘n hierjy geskenk nie: ‘n fêncy rooi afstandbeheer kar.)

Gisteraand vertel die verjaardagman ons hierdie storie.  A het na hom gekom en sy kommer uitgespreek oor al die Portugese wat nou aangestel word.  Verjaardagman het nie doekies omgedraai nie en hom gevra wat sy probleem is.  Hy wou mos nog altyd die Suid-Afrikaners hier wegkry.  Waarop A stilgebly het en hom nie dadelik geantwoord het nie.  Maar uiteindelik sê hy:  “Die Suid Afrikaners het ons opgefok.  (Met die oorlog)  Hulle was die vyand.  Maar hulle het nooit op ons neergekyk en ons onderdruk nie.  Hulle het hierheen gekom, aangepas en ingepas.  Raak ontslae van al die buitelanders en bring vir ons Suid Afrikaners.”

Wat ek dink oor Afrikaners in Afrika:  ons is ‘n stam in Afrika.  Ons is te wit vir ons swart broers.  Hulle sal altyd mekaar bo ons verkies.  MAAR:  as daar gekies moet word tussen ons en enige ander vreemde witmens, kom ons bo uit.

Maar dalk is die Angolese gopse ‘n unieke plek en nie ‘n weerspieëling van die res van Afrika nie?

02
Dec
09

Ma se Ster

25 Maart 2009

Ek kry vandag diè foto’s.  My hart wil sommer uit my borskas breek van trots.  My oudste, Bruce, speel nou eerstespan.  Ek vermoed dis al rede hoekom hy nog in die skool is – vir daai eerstespan jersey.  :lol: Met sy eerste wedstryd in die kosbare trui,  het hy die eerste drie van die wedstryd gedruk!

Om te dink so mooie kind sou ‘Angus McDougal’ geheet het as sy moeder nie ingegryp het nie!   :mrgreen:

02
Dec
09

Raar maar waar

24 Maart 2009

Die kroeg is nogal ‘n eye-opener as dit kom by hoe mans se koppe werk.  Ek het die afgelope twee weke geluister na hartseer stories, en ander wat my in ongeloof laat lag het.  Soos hierdie een van Jan, wat dit vir die heilige waarheid vertel het:

Jan se vriend, kom ons noem hom Koos, het ‘n nuwe meisie ontmoet.  Gou was hulle in ‘n redelike ernstige verhouding, en natuurlik wou die vroumensie hom aan haar ouers voorstel.  Koos was redelik op sy nerwe; die ouers was taamlik vername en welgestelde mense.  Kom hell or high water, maar ‘n goeie indruk moes hy maak!

In elk geval, die groot dag breek aan en Koos is saam met die dame na haar ouers toe.  Groot familie saamtrek, almal daar om die boyfriend te ontmoet.  Op ‘n stadium moet Koos badkamer toe gaan vir ‘n…ahem…nommer twee.  Klaar met die storie, flush hy die toilet.  Tot sy horror sien hy hierdie massiewe floater nog ronddobber.  Flush weer.  En weer.  Die floater budge nie.

Koos begin benoud raak.  Hy kan mos nie die badkamer verlaat met so groot stuk evidence wat vir die volgende persoon gaan loer nie?  ‘n Boer maak ‘n plan.  Hy skep die vreemde voorwerp uit die toiletbak en draai dit deeglik toe in toiletpapier.  En gooi dit by die badkamervenster uit – reg op die braaivleisvuur wat die ’skoonpa’ intussen begin het…

02
Dec
09

Vrede en ‘n wit lig

23 Maart 2009

Dirkie vertel my van die dag, jare gelede, toe hy deur ‘n swerm bye getakel is.  Hy was daardie jare ‘n transportdrywer, en moes iets op ‘n oubaas se plaas gaan aflewer.  Die oom het hom beduie waar om te stop, en Dirk het terug in sy lorrie geklim en gaan stop waar hy moes.  Met die uitklim, voel hy iets krap-krap tussen sy bene.  Hy dag dis ‘n grassie of  ‘n takkie en buk af om dit af te pluk.  Die volgende oomblik is die bye op hom.

Hy sê hy het instinktief eers begin doodklap, maar binne sekondes was hy toe onder die bye.  Hy’t begin hardloop,  later onder die lorrie ingeduik, maar die bye wou nie los nie.  Al wat hy geweet het, is dat hy by water moes uitkom.  Die oom van die plaas het geskree dat daar wel ‘n swembad by die opstal is, maar dat daar ‘n twee meter hoë heining om is.  Dirkie vertel dat hy in ‘n oogwink oor daardie muur is.  Sy nood was te groot.  Hy’t in die swembad gespring, en daar het die bye  vir die eerste keer laat los.

Toe begin hy opswel.  Die oubaas het hom in sy kar gelaai om hom hospitaal toe te vat.  Dis waar die storie vir my interessant raak.  Hy sê hy kon onthou hy het in die kar geklim; ‘n ou roomkleur Merc.  Op die pad het die oom hom probeer wakker hou.  Toe hulle by die hospitaal kom,  sien hy hoe die kar by Ongevalle stop, mense uithardloop en hom by die hospitaal inhelp.  Soos hy sê:  “Ek sien dit alles van bo af.  So asof ek in ‘n helikopter sit en afkyk.”

Vir ses ure het hulle met hom gespook.  Die dokter wou aanvanklik opgee, maar die suster het hom geken en gesê: “Ek ken hierdie kind.  Hy is X se seun.  Doen iets.”  Dìt het Dirkie waargeneem terwyl hy langs die dokter gestaan het.  Hulle het hom dertien keer gespuit.  Toe hy agterna met die dokter praat, was diè stom.  Hy het nie ‘n bloeddruk of  ‘n pols gehad nie.  Hy was, volgens die dokter, dood.  Die dokter  het maar gedoen wat hy gedoen het omdat die suster hom so beveel het.  Dirkie kon  hom  tot vertel wáár hulle hom gespuit het.  Die dokter kon dit nie glo nie.

Ek vra vir Dirk:  “Was jy nie bang nie?”  Glad nie, verseker hy my.  Hy het langs die dokter gestaan, maar daar was wit lig reg rondom hom.  So asof hy in ‘n witgeverfde kamer was.  Dis wat hy die beste onthou.  Die skerp wit lig.  Hy het gewonder of hy besig is om dood te gaan, maar hy was nooit bang nie.  Hy kan nie onthou wanneer en hoe hy weer in sy lyf gekom het  nie, maar toe hy wakker word was die susters besig om met skalpels die angels van sy vel af te krap.  Hy’s dieselfde dag ontslaan.  Behalwe vir die angels wat hulle vir maande daarna nog uitgehaal het, was hy 100 %.

Ek het al van ‘near death experiences’ gehoor.  Dirkie is die eerste mens wat ek ken, wat beweer hy is deur so ervaring.  Hy praat ook van ‘n vredige gevoel, en die wit lig, soos baie ander mense ook vertel.

Ek wonder.

Ek wens heimlik.  Ek sal nie omgee om self so wit lig te sien nie. Vrede te ervaar nie.  Al is dit net vir ‘n klein rukkie.

02
Dec
09

Green food

22 Maart 2009

Vir drie jaar eet ons gereeld by ‘n spesifieke restaurant in Viana.  Elke keer vergryp ek my aan drie groen kossies.  Elke keer neem ek my voor ek gaan uitvind wat die goed se naam is, maar sodra ek daar uitstap, is dit weer vergete.  Twee lyk soos fyn opgesnyde blare, voorberei met onder andere uie.  Die derde groen gereg lyk soos ‘n kruising tussen ‘n komkommer en ‘n chilli.  Al drie is heerlik, en dis dalk net my verbeelding, maar ek voel sommer fris en gesond na ‘n skeppie daarvan.  Dit hou egter net nooit by ‘n skeppie nie. Ek mis maklik die vleis, maar ek SKEP behoorlik van my ‘green food’, soos ons daarvan praat.

Vandag het ons darem die baster-komkommber/chillie se naam uitgevind.  My man het by ‘n straatmark gestop om garnale te koop, maar in stede teruggekom met ‘n sakkie van diè goed.  Die plaaslike naam is ‘quiabo’, wat vir my niks beteken nie.  By die huis het ek dit gaan vertaal, en daar kry ek dit toe:  okra.  Van okra het ek al gehoor, en ek kan my kop op ‘n blok sit ek het dit al in die winkels gesien.  Ek sou dit natuurlik nooit koop nie, want ek het toe nog nie geweet hoe dit smaak nie.

‘n Amper ‘bland’ smaak, romerig, met ietsie van ‘n baby marrow se geurtjie.  Man, heerlik!  En die beste is, dis heel goedkoop, so R4  -  R5  ‘n sakkie.  Nou die dag het ek gelees dat Luanda die duurste ex-pat stad in die wêreld is; dit het selfs Tokio verbygesteek.  ‘n Mandjie met ‘n aantal goedere wat gewoonlik deur ex-pats (oor die wêreld) gekoop word, was die duurste in Luanda.  Dit verklaar die pakkie sampioene vir amper R80!  Ek begin dink dit gaan goedkoper wees om te vergeet van goed in Suid Afrika en meer op ‘local produce’ in te zoom.  En boeta, okra is ‘n bo-baas plaasvervanger vir enige bekende groen ding!

Ek kan okra sterk aanbeveel!  As jy dit in  jou P & P of Spar sien, gee dit ‘n kans.  Ek stoom dit net met ‘n bietjie sout, en binne 5 minute is dit reg. Njammies!

02
Dec
09

Slim vrou

21 Maart 2009

In die Beeld:

‘Afrika is verslaaf aan geldhulp en, soos enige verslaafde, is hy afhanklik van ’n gereelde regmaker,” skryf Dambisa Moyo in ’n boek wat pas verskyn het. Moyo is ’n Zambiër met ’n Harvard -en Oxford-opvoeding en tot onlangs toe Goldman Sachs se voorste globale ekonoom en strateeg.

Moyo is skaamkwaad omdat die sowat $1 triljoen (sowat R9,6 triljoen) – $1 000 (sowat R9 600) vir elke mens vandag op aarde – wat sedert die 1940’s in Afrika ingepomp is, min verskil gemaak het aan die vasteland se pandemiese agterlikheid.

Sy vergelyk Afrika se voortgesette ellende met die “oorweldigende sukses” wat met die Marshall-plan van net $13 miljard (sowat R124,8 miljard) – $100 miljard (sowat R960 miljard) in vandag se waardes – behaal is om Europa ná die Tweede Wêreldoorlog te herbou. Moyo is genadeloos wanneer sy redes aanvoer vir Afrika se mislukkings. Sy sê geldhulp het ’n gierige sirkelgang in Afrika tot gevolg gehad. “Met geldhulp het korrupsie verdere korrupsie gevoed.”

Omdat korrupsie gedy, gedy agteruitgang. Dit lei weer daartoe dat donateurs by herhaling geld na korrupte lande stuur om die ellende te stuit wat korrupsie veroorsaak.

Sy skryf dat geldhulp tot die burgeroorloë en staatsgrepe in Afrika lei. Dié wat wen, wen toegang tot die geldpotte.

Moyo sê een van dié hulp se newe-effekte is dat dit inflasie in swak-bestuurde ekonomieë aanblaas. In ander gevalle “versmoor” geldhulp Afrika-lande se internasionale mededingendheid.

Sommige Afrika-lande het nie eens die kapasiteit het om die geld wat hulle leen of wat aan hul geskenk word, te bestee nie.

Waarom het die VSA se belegging van $100 miljard (sowat R960 miljard) in Europa van die Europese Unie sy grootste ekonomiese mededinger in 2009 maak en waarom het die $1 triljoen (sowat R9,6 triljoen) wat Afrika reeds ontvang het hom meer hulpbehoewend gemaak?

“In die eerste plek was Europese lande nie (soos die meeste Afrikalande vandag nog) alleen-afhanklik van geldhulp nie.”

Europa se ekonomiese herstel was ongeag die geweldige oorlog?skade al aan die gang toe die Mar?shall-plan ingeskop het en dit het net 2,5% van Europa se bruto binnelandse produk uitgemaak.

Daarteenoor, in die tipiese Afrika-land, beloop internasionale geldhulp 75% van staatsinkomste.

Die Marshall-plan moes Europa se infrastruktuur herstel, en nie soos in Afrika, “elke faset van sy ekonomie binnesuur nie”.

“In die meeste arm lande is daar geldhulp in die staatsdiens, politieke instellings, in weermagte, in gesondheidsorg, opvoeding, in infrastruktuur.

“Geldhulp is endemies. Hoe meer dit infiltreer, hoe meer erosie veroorsaak dit en hoe groter is die kultuur van afhanklikheid daarvan,” skryf Moyo. Sonder ’n politiek-korrekte haar op haar kop skryf sy Afrika moet hom speen van sy verslawing aan geldhulp. Vir Moyo lê die antwoord in “innovasie en ’n goeie dosis eerlikheid.”

Kredietwaardigheid moet gevestig word. Reserwes moet binnelands en buitelands opgebou word en besteding moet oorwegend aan basiese infrastruktuur wees.

“Die geldmarkte is oop en oop vir Afrika,” sê Moyo. Deur beleggings te lok, sal Afrika nie om skenkings hoef te bedel nie.

As Afrika ’n regmaker nodig het, is dit hierdie boek – geskryf deur ’n Afrikaan vir Afrikane – nie om ons te verneder nie, maar om ons regmatige plek op die aardbol op eis.

Moyo se doodsertifikaat vir hulp aan Afrika plaas, in die lig van die huidige wêreldwye geldelike tydsgewrig, die toenemende donateursatheid in die kollig. Dis ’n harde teregwysing en as Afrikane dit nie wil hoor nie, moet ons aanvaar dat donateur-regerings wel op hierdie (te) laat gewaarwording ag slaan – ’n geruime tyd al.

“Óf hulle (die skenkers) glo nie meer dat geldhulp werk nie, óf hulle het nie geld nie, óf hulle gee nie meer om nie, feit is hul beursie krimp,” maan Moyo.

Sy sluit af met ’n Afrika-gesegde wat ’n aanklag én ’n aansporing is: “Die beste tyd om ’n boom (self) te plant is 20 jaar gelede. Die tweede beste tyd is nou.”

Vir Moyo is die tyd die dringende nóú. “Die gemiddelde Afrikaan is vandag armer as net twee dekades gelede,” skryf sy.

 

  • Dead Aid – Why aid is not working and how there is another way for Africa word deur Penguin Books uitgegee.
  • 02
    Dec
    09

    Home sweet home

    19 Maart 2009

    Ek het gedink.  Wat sal ek skryf vandag?  Met watter pittige storie kan ek vandag vorendag kom?  Ek kon aan niks dink nie.  Toe vat ek die maklike uitweg YouTube toe, en daar kon ek kies tussen ‘n vrekwalglike insek wat iemand op ‘n pad teëgekom het, of ‘n ‘frozen mammoth from Siberia’.

    Op die ou einde was ek lus vir niks.

    Ek het nou (alweer) net een ding op die hart.  Ek wil op my SAA aerie klim en huistoe vlieg.  Ek wil my twee kjênnertjies weer sien.  Ek verlang my moeg na hulle; ek bekommer my moeg oor hulle.

    Maar dêmmit.  Dis nog ‘n hele maand.  :sad:

    Sug.

    02
    Dec
    09

    Koud

    18 Maart 2009

    Dalk skok ek nou met wat ek gaan sê, maar sedert ek dit Dinsdagaand gehoor het, moet dit net uit.

    Koue vroue.  Of te wel, vrouens wat nie saam met hul mans in die kooi wil speel nie.

    Ek praat met hierdie jong man in sy dertigs.  Goeie ou boerestock, geen geite nie.  Vier klein kindertjies en ‘n vrou wie hy letterlik aanbid.  Vandat ek hom ontmoet het verlede jaar, het ek hierdie prentjie in my kop van ‘n allergelukkige huisgesinnetjie.  En hulle is gelukkig en lief vir mekaar.  Maar dit vreet aan hom:  sy vrou wil van die fisiese niks weet nie.  Hy noem haar ‘Victoriaans’.  Dis hoekom hulle vier kinders het – die enigste kere wat hy by haar kon uitkom.  Ek hoor sy storie, en ek wil haar kop inbash.  Predikantsdogter.  Seker nog steeds diep onder die indruk van hoe sondig seks is.

    Ek het nou die dag gehoor of gelees (kan nie lekker onthou nie!) dat daar baie min mediese faktore is wat ‘n vrou ‘koud’ kan maak.  Meeste van hierdie ‘probleme’ ontstaan in die kop.  Soos ‘n vrou wat grootgemaak is met die idee dat seks verkeerd is.  Of ‘n vrou wat as kind gemolesteer is.  Ek het simpatie daarmee.  Maar…om daai hele boksomdaais  in ‘n huwelik te neem?  Dit kan ek nie verstaan nie.

    Want seks hou die huwelik se bakstene aanmekaar.  Jou man gaan jou nie los oor jou dimpelboude nie.  Hy gaan jou nie los oor die moesie op jou maag nie.  Maar daar is ‘n goeie kans dat hy jou gaan los as hy net een of tweekeer ‘n jaar intiem met jou ‘mag’ verkeer.  (Ek praat nou hier van ‘gewone’ mans – nie die rondlopers van wie die koerante nou vol is nie.)  :wink:

    Nou laat ek dit ook soos werk of ‘n verpligting klink.  Genade, maar seks is mos lekker!!!  Hoe anders sou ons deur eeue bly voortbestaan het!  Ek wens net meer vrouens wil oor hul hang-ups kom en begin warm raak vir hul mans.  Stout wees.  Gewaagd.  Want jy mag.

    Dis tog hoe dit bestem is om te wees?

    Hierdie video is vir my tog te sexy.  Ek het dit die eerste keer by Tigerlily gehoor, en sjoe, die spanning tussen die twee maak my kortasem!

    Piet van Wyk de Vries  -  Madelein Madelein

    01
    Dec
    09

    Trekarbeiders

    16 Maart 2009

    Ek is weer die barmaid vir die volgende twee weke, en eintlik wou ek oor al die kroegsnaaksighede geskryf het.  Daar is baie.  ‘n Argument oor hoeveel sintuie ‘n mens het en hoeveel sintuie ‘n kat het, kan in iets baie komies verander.  Daar is uiteindelik besluit dat ‘n mens 5 sintuie het, maar ‘n kat 7.  Tot ‘n effens-nugter ou wakker skrik en aankondig: “‘n Kat het nege lewens, nie sewe sintuie nie, jou f#$%%^ aap.”  :wink:

    As mens egter verby die gespot en gelag kyk, is dit ‘n hartseer-storie.  Ek kan verkeerd wees, maar dis een ding om jou vrou en kinders te vat en in ‘n land soos Australië, Kanada of Engeland te gaan woon en werk.  Hetsy  permanent of tydelik.  Dis ‘n ander ball game as net die pa sy tassies pak en in Afrika gaan werk.  Daar is hordes van hulle, die nuwe  trekarbeiders van Suid-Afrika.  Ek sien hulle op die lughawe, ek sien hulle op ons vlug na Luanda.  Jonk en oud, met jeans en T-shirts en diksoolskoene en Reebok-rugsakkies.  Die meeste is ambagsmanne wat nooit in Suid-Afrika die salaris sal kry wat hulle elders in Afrika sal kry nie.  En dis die enigste rede hoekom hulle dit doen.  Die geld is goed, baie goed.

    Maar dit het ‘n prys.

    In ons klein mikrokosmos sien ek die mans betaal vir die voorreg om in Afrika te werk.

    Klein vet Dirkie se derde kind is in Januarie gebore; drie weke later was hy terug by die werk.  Hy sien sy nuweling eers oor drie maande weer – vir twee weke.  Hy is gelukkig, hy het nog nie ‘n werkspermit nie en moet elke drie maande die land uit wees om ‘n visum te kry.  As hy ‘n werkspermit gehad het, sal hy so lank bly as wat die werk dit goed dink.  Ses weke uit 52 weke by die huis.  Dis hoekom ek hier is.  Ses weke is nie vir my goed genoeg nie.  Ses weke ‘n jaar is nie ‘n huwelik nie.  Ses weke ‘n jaar is nie genoeg vir my kind om sy pa te sien nie.

    As jy werk in Afrika het jy nie beskerming nie.  As die werk jou nodig het, sal jy 24 uur aaneen werk.  Jy sal op jou af naweek werk as jou werk dit vereis.  Jy sal twee uur in die oggend ‘n masjien gaan regmaak want “jy is die ex-pat met al die kennis.”  Jy mag nie kla as jy nie betaling kry daarvoor nie, want jy word maklik vervang.  Daar is nog hordes in Suid Afrika wat sal spring vir hierdie voorreg.  Moet dus nie wonder hoekom ons so baie rondry nie.  Dis deels vir die lekker daarvan, maar dis een manier om te verseker dat my man ‘n ‘af ‘ naweek het.

    Dis ‘n roetine wat jou sleg maak.  Werk, eet, drink, slaap.  Oor en oor.  Niemand het stokperdjies nie.  Oor naweke gaan hulle in groot gros see toe om ‘vis te gaan vang’.  Die stokke word uitgehaal, maar na ‘n uur of twee het bier en son die oorhand gekry.  Hulle kom rooi gebrand en vuisvoos terug.

    In die aande en oor naweke drink hulle.  Dis die belangrikste tydverdryf.  Party drink by die 1000 $ uit ‘n maand.  En terwyl hulle hangskouer voor jou sit by die kroegtoonbank, dan hoor jy stories van verlange en hartseer en bekommernis.  Van vrouens wat ‘rondneuk’, van tienerseuns wat rebels raak en ander probleme waaraan hulle niks kan doen nie.  Net daaroor bekommer.

    As die verlange na ‘n vrou te groot word, dan kry jy ‘n meisie uit die village.  Maak nie saak dat sy skaars uit haar kinderskoene is nie.  Natuurlik kos hierdie voorreg ook geld.  En selfverwyt.  Dit raak ‘n verslawing en party probeer regtig om dit nie te doen nie, maar swig telkens voor die jong, gewillige vleisies.  Hier het ek geleer dat jy ‘jou mense’ nie moet oorskat nie.  After all is said and done, bly ‘n man ‘n man.

    ‘n Gewilde kroegpraatjie is oor hoeveel miljoen elkeen in sy bankrekening het.  Ek lag innerlik vir hulle.  As jy ‘n multi-miljoenêr is, soos sommige beweer, sou jy verseker nie hier gesit het nie.  Die toelae hier sal jou gemaklik laat lewe in Suid Afrika, maar kos en ontspanning is baie duur hier.  Jy betaal dat jy hop as jy ‘n leefstyl wil hê soos by die huis.  Baie min kan spaar wat hulle hier kry.  Die salaris wat in Suid Afrika betaal word is uitstekend, maar almal het kinders, karre, huise…verpligtings.  Maar dis ontvlugting.  Om te vertel jy is nie verleë oor hierdie werk nie.  Jy kan waai as jy wil.

    Daar is mans wat al amper twintig jaar in Afrika werk.  Daar is mans wat skaars ses maande kan uithou.